Friday 9 August 2024

Terugblik: 1975 - Dutoitspan se maandkaarte


GOD IS WERKSAAM
In die begin was God - so het u in verlede maand se maandkaart gelees. God was in die begin werksaam. Daaroor sou ons meer sê, so het ons belowe.

God het 'n plan met hierdie wêreld. 'n Heilsplan. Hy gaan volgens 'n plan te werk en bring elke klein besonderheid van sy plan ten uitvoer.

As ons 'n huis wil bou, teken ons 'n plan daarvan en laat die besonderhede skriftelik opstel sodat die bou-aannemer haarfyn kan weet hoe om die werk uit te voer.

So is dit nie met God nie. Niks hoef  Hom aan sy voorneme te herinner nie. God het van alle ewigheid af 'n bepaalde doelwit met alles wat Hy onderneem. Alles het 'n bestemming. Omdat God ewig is, was daar nie 'n bepaalde oomblik dat Hy met sy werk begin het nie. Sy groot gedagtes het nooit 'n begin gehad nie. Hulle was eenvoudig daar, volmaak soos Hy (Ps. 33:11).

God was werksaam gedurende ses skeppingsdae. Op die sewende dag het Hy gerus. Op hierdie dag was God egter nie ledig nie. Hy waak deur sy voorsieningheid ten alle tye oor sy handewerk, besonder oor die mooiste wat Hy gemaak het, die mens. Ons werk op die Sondag is om met toegespitste toewyding vir ons onsterflike siele te sorg.

God is deur sy Gees steeds werksaam in ons lewens om ons te vorm na sy beeld. Om ons gereed te maak vir die wederkoms van sy Seun. Wat 'n voorreg om soos Hy in toewyding aan God werksaam te wees.
MAART 1975 

[Skrywer: Ds. HC de Wet, predikant in Dutoitspan vanaf 1974-1985]