Wednesday 7 August 2024

Mossiestilte: 2 Kor. 4:18

... omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.

Alles wat ons met die oog kan sien, is vir ons werklikheid en ons glo omdat ons gesien het. Dit wat ons egter nou sien, sal vergaan, ook ons dade, maar dis hier op aarde, waar ons geloof bou en hier op aarde waar ons gered word van die bose (wat ons nie kan sien nie behalwe die manifestasie daarvan in mense). Selfs Jesus het aan die Fariseërs gesê: Omdat julle sê dat julle sien, is julle blind. Ons sien ook nie die ewige lewe of die ewige dood nie. Die Heilige Gees is ook nie sigbaar nie, maar ons sien die vrug daarvan in mense se lewens.

Here, open asseblief my oë dat ek U kan sien soos Elisa aan sy dienskneg laat gebeur het. Here, ek wil soos 'n kind absoluut in U glo. Ek vertrou U vir vandag. Ek weet U sal my van die bose red. U het vir my u geregtigheid gegee al verdien ek dit nie. Dankie Heilige Gees, dat U die waarheid en heiligheid van God die Vader uitbeeld. Ek besef hoe blind ek is, maar U, Heilige Gees, openbaar Uself aan my en leer my daagliks. Ek loof U Vader, vir die geskenk en genade wat U aan my gegee het. Ek loof U en prys U in Jesus se Naam. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]