Sunday 25 August 2024

Mossiestilte: Es. 47:9

En al die lewende wesens wat wemel, oral waar die dubbele stroom kom, sal lewe;


Na aanleiding van die groet van 'n vriend ...
Toe iemand hom vra hoe dit gaan, sê hy: "Strome!"
Die vraagsteller het onmiddellik geweet wat sy vriend met die antwoord bedoel ... strome van seën.
Is dit nie wat ons in die kerk sing nie?
Waar kom dit vandaan? Jesus sê in Joh. 7:38 - strome van lewende water sal uit sy binneste vloei ... uit wie? Uit hom wat in Hom glo.
Die water en stroom spreek van die Heilige Gees.
Jesus wil vandag aan jou sy Vader se geskenk gee naamlik, die Heilige Gees; die stroom van die Heilige Gees.
Uit jou sal strome van seën vir almal om jou vloei, omdat jy na Jesus toe gekom het om jou dors te les.

Dankie Vader vir die stroom van lewende water wat vanuit u troon vloei vir almal om van te drink. Es. 47 sê: alles lewe by die stroom, en die bome langs die stroom, hou nooit op vrugte dra nie en hulle blare verdor nooit nie. By U Here, is die lewe, en lewe in oorvloed. Ek drink vandag by u stroom van lewende water, sodat strome van lewende water ook uit my kan stroom en u Naam verheerlik kan word. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel.]