Saturday 24 August 2024

Wees sterk, wees vasberade.

Daar was eendag ‘n ou tannie wat vreeslik lief was vir tuinmaak. Met liefde en sorg het sy na al haar plantjies en blommetjies omgesien. Verbygangers het eers vir ‘n wyle stil gaan staan om haar pragtige tuin te bewonder.

Eendag daag ‘n joernalis op, om met haar ‘n onderhoud te voer. Te hoor wat sy dan doen dat haar tuin so uitstaan bo al die ander tuine in die dorpie.

En toe vertel sy dié storie:
“Jare gelede, toe die dorpie tot stand gekom het, het die burgemeester ons almal genooi om saad en toerusting te kom haal sodat ons die dorp se tuine kan mooi maak. 

Omdat ek moeilik loop, as gevolg van my skewe voet, het ek laaste daar aangekom en laaste in die ry ingeval. Almal voor my het die beste pakkies saad uitgesoek en die mooiste gieters gevat. Of só het ek destyds gedink.

Toe ek uiteindelik voor kom, was daar nog net ‘n paar oorskiet pakkies saad oor en ‘n stukkende gietertjie. Die gietertjie was gebuig en vol gate, maar het vir my so kosbaar en mooi geword met die jare.

Ek het al die saadjies wat ek bymekaar kon kry in my tuin kom saai en getrou dit natgegooi met die stukkende gietertjie. Want, het ek agtergekom, die gietertjie vol gate het soos ‘n spreier gewerk. Dit kon terselfdertyd op verskillende plekke natmaak. Ook ‘n straaltjie op my skewe voet laat val, wat tussen my tone kielie, en my laat skaterlag het. Onwillekeurig het ek my tone begin beweeg van die tinteling en daar het weer lewe in my voet gekom. Daardie gietertjie het wyd gesprei.

Dit was dus ‘n seën dat ek al die verskeidenheid saadjies en die beste gietertjie kon gekry het.”

Werk dit nie maar in die lewe ook so nie?

Ons almal probeer altyd die mooiste en beste in alles kies en wees. Die regop gietertjies met perfekte tuitjies, sonder duike of merkies. Ons moet mos altyd goed vertoon, ‘n mooi straaltjie kan gooi, sonder om onnodige druppels te mors, sekuur gemik op die teiken.

Niemand van ons wil tog, as keuse, ‘n gebuigde ou gietertjie, vol gate, wees nie. Maar dis juis daardie gietertjies vol gate, wat wyer kan besprinkel, as die perfekte gieters. 

Jesus self, was vol gate gemaak, daar waar Hy aan die kruis vir ons gehang het. En deur daardie wonde kon Sy liefde wyd oor die mensdom uitvloei. Hy was liggaamlik geknak, nie meer heel nie. Hy moes stukkend word, sodat ons geestelik heel kon word.

Die lewe knak ons ook soms. Bitter min van ons kom ongeskonde anderkant uit. Maar dis juis dan wanneer ons meer bruikbaar word vir God en ander.

Want as jy vol ‘gate’ is, kan Sy liefde wat deur jou vloei (wat die bron van lewende water is) beter sprei oor ander, maar ook oor jou eie binnetuin. Die Here kies soms die mees gebuigde gietertjies, met die meeste gate, om groot dinge vir Hom te doen. Want hulle is nie meer so ingestel op hoe hulle lyk nie, maar net op hoé diensbaar hulle kan wees.

“Here, dankie dat U nie na ons uiterlike kyk, of na die verwonding van ons innerlike nie. Dankie dat U elke hart raaksien. Dat U liefde dit vir ons moontlik gemaak het om diensbaar te kan wees. Dankie dat U stukkend geword het, sodat ons heel kon word. Gee dat ons met trots U liefde sal sprei oor ander en onsself. Gebruik my, stukkende gietertjie om vir ander lewende water te gee wanneer ek nie meer kan nie, want ek weet in my swakheid word U krag volbring."
Amen

(Skrywer onbekend)

“Ekself gee jou die opdrag. Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.” Josua‬ ‭1‬:‭9‬

[Dankie, Rosetta, vir hierdie pragtige bydrae.]