Sunday 18 August 2024

Mossiestilte: Dan. 4:34

En ná verloop van tyd het ek, Nebukadnésar, my oë na die hemel opgeslaan, en my verstand het in my teruggekeer, en ek het die Allerhoogste geloof en hom wat ewig lewe, geprys en geëer, wie se heerskappy 'n ewige mag en wie se koningskap van geslag tot geslag is.

Somtyds is ons probleme selfgeïnduseer. Dis eers wanneer ons opkyk en God weer soek in ons lewens, dan kom die volle wysheid en verstand in ons terug en ons besef, maar ons doen dinge op ons eie manier en nie volgens God se wil nie.

Dis nie lekker om platgeslaan te word deur die lewe nie. Die Heilige Gees sal ons egter nooit verlaat nie en vertroos ons gedurigdeur. Hy leer ons ook in die woord en weg van God en herinner ons aan wat God se woord sê. Wat 'n heuglike dag wanneer ons weer opkyk en God in ons lewens toelaat dat ons weer uitvind hoe goed God vir ons is en dat Hy net die beste vir ons wil gee!

Vertrou God en bid soos Nebukadnésar in vers 37, 35 en 34 hierbo: Nou prys ek, Nebukadnésar, en ek roem en eer die Koning van die hemel: al sy werke is waarheid en sy paaie is reg, en Hy verneder die wat in hulle trotsheid wandel. (Vers 35) En al die aardbewoners word as niks geag nie, en na sy wil handel Hy met die leër van die hemel en die bewoners van die aarde, en daar is niemand wat sy hand kan afslaan en vir Hom sê: Wat doen U nie?

Here, ek laat U weer toe om oor te neem in my lewe, want self, kan ek nie so vootgaan nie. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]