Friday 2 August 2024

Ontmoet ons personeel: Elsa Minne


Elsa Minne is 'n Dutoitspanner in murg en been. Iemand wat meer as 50 jaar deel van die gemeente is, baie predikante sien kom en gaan het en die gemeente in al die stadiums van menswees ervaar het. Van 'n kind in die Sondagskool en Kinderkrans tot by saakgelastigde.

Elsa is 'n doop- en belydende lidmaat van Dutoitspan vanaf 1970. Sy is in hierdie gemeente aangeneem en voorgestel, twee van haar kinders is hier gedoop en al drie het belydenis van geloof in Dutoitspan afgelê.    

Sy was aktief betrokke by verskeie diensgroepe van die gemeente onder andere die jeug (Kinderkransleidster), Vrouediens (groepleidster) en die kategese. Wanneer daar 'n helpende hand benodig is, hoef hulle nie ver te gesoek het nie. Betrokkenheid was en is deel van haar woordeskat. By Ons Huis, die tehuis vir bejaardes, het sy die winkel op wiele beman totdat haar man siek geword het. Sy is vir die laaste ses jaar Ons Huis se ouderling.

Elsa: "Ek word aangestel as koster van 1 November 2007 tot en met die einde Desember 2017. Dit was seker die beste 10 jaar in my lewe waar ek saam met die mooiste kinders van die Here kon werk. Dit was ’n groeitydperk in my lewe - geestelik sowel as my menswees. Oom Schalk Pienaar, my rolmodel, was die een wat my staande gehou het in my werk."

Elsa neem as skriba waar tot 28 Februarie 2018, waarna sy op 1 Maart 2018 as skriba aangestel is. Die besluit om die skribapos te aanvaar, was nie 'n maklike besluit nie. Die belangrikste rede was dat sy haar kosterwerk baie geniet het en die gedagte dat sy dit vir die vier mure van 'n kantoor moes verruil, was nie só aanvaarbaar nie. Sy het baie gebid en gehuil oor die pos tot die dag wat die Here vir haar gewys het dat sy dit kan doen. Van daardie oomblik af  het sy nog nie een dag teruggekyk en gewonder hoekom sy hier is nie. Elke dag bring nuwe uitdagings wat aangepak moet word. 

Hierdie werk het nou vir haar 'n passie geword wat sy vir niks sal wil verruil nie. Sy kom elke dag met ‘n lied in haar hart werk toe. Hierdie gesindheid kan duidelik in haar lewensmotto's gesien word. 

Elsa glo dat dit wat jy aanpak, moet jy voluit doen en klaarmaak. Almal wat al 'n e-pos van haar gekry het, weet dat haar uitgangspunt is dat wat jy met geesdrif doen, doen jy sonder moeite!  

Elsa is ook 'n ywerige leser, Christelike fiksie is bo-aan haar lysie en haar gunstelingskrywer is Karin Kingsbury. 

Hartskos is kos wat 'n mens met 'n tikkie heimwee huis toe laat verlang en die kos wat aan Elsa se hart torring is rys en heerlike kerrie-afval.

In 'n neutedop is hierdie die mens wat Dutoitspan se kerkkantoor beman.