Ek het hom nooit spontaan ontmoet nie, maar sy naam het hom vooruit geloop. Juis daarom het ek moeite gedoen om hom te gaan leer ken.
Aan die Suidkus van ons land waar baie mense gereeld by die see gaan uitrus en in die branders en sand kop skoonmaak, het Surprise nie gerus nie.
Waar ander rus, daar is sy werksplek. By die klein, tog besige ou seeplekkie is Surprise gestasioneer.
Hy sou seker ook net die nodige kon doen soos baie van ons, maar nee, hy glo jy doen die ekstra moeite, jy dra daardie ekstra vrag, jy help onvoorwaardelik. As jy hom leer ken, dan kom jy dit onmiddellik agter. Dit was nie moeilik om hom op te spoor nie - ja, almal ken vir Surprise.
By die laaste huis waar hy 'n inbraaksaak hanteer het, het hy uit omgee vir hulle kos laat aflewer.
By die voertuig wat langs die pad gaan staan het, het hy nie net iemand gebel nie, maar haar later gebel en gevra of sy veilig tuis gekom het. 'n Ander se klein seuntjie se trane het hy afgedroog.
Nou ja, so kan ons seker baie dinge oor baie mense vertel - wat Surprise anders maak, is dat die dinge nie 'n nou en dan verskynsel in sy lewe is nie, dit is hoe hy elke dag leef.
Dit is wie hy is. Onvoorwaardelik altyd dienend. Sy lewe gevul met diensbaarheid.
In my gesprek met hom vra ek hom: "Hoe kry jy dit reg dat almal so mooi van jou praat, wat maak jou so anders?"
"Anders, Meneer? Ek is nie anders nie, ons is mos maar almal dieselfde. As ons oë kyk, sien hulle 'n plek waar hulle kan help, as ons ore luister, hoor hulle 'n plek waar hulle kan help, as ons mond praat, dan bring dit sagtheid.
In 'n nuwe jaar, met nuwe dinge, kan ons by Surprise iets leer: DIEN.
[Bron: Noordkaap - Twyfelhoekie - Hannes Noëth - gaan lees gerus die Twyfelhoekierubrieke op die internet -daar is soveel pitkos om aan te herkou.]
