Sondagskoolonderwyser wil by haar klassie hoor wat hulle dink van die begrip toeval of toevallig.Sy besluit om die kinders aan die dink te sit met 'n vraag.
"Wie van julle kan vir my 'n voorbeeld van toeval gee?"
Sarel: "My ma en pa is toevallig op dieselfde dag getroud."
oooOOooo
Dieselfde Sondagskoolklas is die betrokke Sondag baie besig en die juffrou sukkel om hulle rustig te kry. Sy betrap een van die seuntjies in haar klas dat hy baie lelik praat. Dis nie net ongehoord vir sy ouderdom nie, maar ook die plek waar hulle hul bevind.
"Willie,"sê sy, "jy moenie so lelik praat nie. Waar leer jy sulke woorde?"
"My pa het so gesê," antwoord Willie.
"Ag, dit maak seker nie saak nie, want jy weet tog nie wat dit beteken nie"
"Ek weet tog, juffrou," help Willie haar reg. "Dit beteken die kar wil nie vat nie."
oooOOOooo
Die Sondagskool het 'n heerlike daguitstappie na Rooifontein. Moeg gespeel na 'n onvergeetlike dag in die buitelug, moes die kinders se ouers hulle so teen vieruur die middag by die kerk oplaai.
Jannie se ma sien sommer op 'n distansie hoe hy met 'n meneer van 'n blouoog aangestap kom.
Sy ma is op die plek vies.
"Het jy alweer baklei?"
"Ja, Ma, maar Kobus het eerste teruggeslaan."