“Van tyd kan 'n mens baie dinge sê. Tyd heel wonde en laat 'n mens vergeet. Tyd vlieg verby en namate jy ouer word, lyk dit of dié al hoe vinniger gaan. Jy kan tyd nie terugkry nie, want wat verby is, is verby. En jy kan jou tyd verspeel, of só geïnteresseerd raak in iets dat jy nie agterkom dat die tyd verbygaan nie. Verliefdes kom tyd selde agter.
“Die Prediker het 'n halwe hoofstuk geskryf oor die feit dat alles 'n bepaalde tyd het: om te huil en te lag, om te plant en uit te roei, om te lewe en te sterwe, om lief te hê en te verlaat (vgl Pred 3). Ja, en die Prediker was nie 'n baie vrolike man nie. 'n Mens verkies die optimisme van Longfellow:
“Lives of great men all remind us
we can make our lives sublime
and, departing, leave behind us
footprints in the sands of time
(uit: A Psalm of Life).
“Ons hoop ons kan 'n voetspoor in die sand van die tyd agterlaat, dalk vir iemand om te volg. Totius het gesê dat wanneer hy die grens van die ewigheid oorsteek, hy die voetspoortjies van sy heengegane kinders voor hom sal sien om hom huis toe te lei. Dis alles mooi beelde, maar Dawid s'n is die mooiste: 'My tye is in u hand ...' (Ps 31:16; 53-vertaling).
“Dis of 'n mens in jou verbeelding 'n groot hand sien, of liewer twee hande saam gehou sodat dit 'n bakkie vorm, met alles, ook my hele aardse program daarin. Daardie hande is beskermend, onderhoudend, koesterend, ewig, sterk en veilig. Wat ook al met my gebeur, gebeur binne die beskermende sfeer van daardie Goddelike hande. Dis natuurlik 'n baie menslike beeld wat Dawid vir God gebruik, maar dit druk die gevoel van God en sy totale heerskappy en liefde uit. Dis tog Dawid wat gesê het: Selfs vir my straf wil ek liewer in die hande van die Here as dié van mense val ...
“Daarmee kan ek, mens, my vereenselwig - met oorgawe en berusting.”
Uit: In die Teenwoordigheid van God deur Izak de Villiers
[Kuier HIER vir interessante stukkies, brokkies en dagstukkies.]