Sunday, 22 December 2024

Mossiestilte: Hos. 13:14

Uit die mag van die doderyk sal Ek hulle loskoop, Ek sal hulle verlos van die dood. Dood, waar is jou pestilensies? Doderyk, waar is jou verderf? Berou bly vir my oë verborge. 

'n Wonderlike profetiese woord wat in vervulling gekom het, wat jy vandag kan aanneem. God het jou nou losgekoop van die doderyk. Jesus se bloed het jou bevry en die dood is oorwin. Die doderyk het geen verderf meer om jou te vernietig nie. Die berou van God bestaan nie meer nie, want deur Jesus Christus se bloedoffer, is onverstandigheid en ongeregtigheid verborge vir die oë van God en is sy grimmigheid afgewend van jou af.

Here, ons God, U is ons almal se God. U het my sondes verander in geregtigheid. U het arm geword sodat ek deel kan hê aan die rykdom van u heerlikheid. U het gesterf sodat ek die ewige lewe kan hê. Jesus, die Seun van God is my enigste en ewige Koning. U, my Koning, het my losgekoop van die doderyk. U, sal altyd geloof en geëer word deur alle volke. Elke knie sal buig en elke tong bely dat U, Jesus Christus, die Here is; die liefling van my siel. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel.]