Maar julle, geliefdes, moet julleself opbou in julle allerheiligste geloof en in die Heilige Gees bid
Ervaar jy nou 'n moeilike, donker, koue, droë en alleentyd? Dan is dit nou die tyd om jou wortels soos die van 'n boom, dieper in die grond te vestig. Terwyl jou blare afgeval het en jy nie nou vrug kan dra nie. Bid nou meer en vertrou die Here. Binnekort kom die lente en die tyd wat jy nuwe blare en blomme moet maak. As jy jou lewe dieper inwortel in God se krag, sal jy op die regte tyd weer blare, blomme en vrugte kan gee. Dit gaan nie oor jou nie, maar oor wat jy vir ander kan gee, wat jou werk in die lewe is.
Dankie Here, vir u seëninge oor my, u barmhartigheid oor my, u genade wat ek elke dag kry. Strome van seën tref my elke dag. Strome van genesing, van rykdom, van blydskap en vreugde, van vriende en familie, van geloof in U. U sê duidelik dat strome van lewende water sal uit ons uitborrel, die wat in U glo. Ons het so baie om uit te deel en aan ander te gee. Ek is opgebou in die Allerheiligste en ek wil net in u Heilige Gees bly, sodat ander van my vrugte kan kry. Amen.
[Aangestuur deur Pieter Swanepoel.]