God is getrou, deur wie Hy julle geroep het tot die gemeenskap met sy Seun Jesus Christus, onse Here.
Ons het Christus se geboortedag gevier, met verskeie redes:
Sommige om kwaliteittyd met hul geliefdes deur te bring. Sommige om weer net lekker te kuier met wie ookal en lekker te kan drink; die geleentheidsdrinkers, elke geleentheid moet gebruik word vir drink. Ander om in gebed die Here Jesus, te dank en te verheerlik, vir sy reddingsdaad, op God se gegewe tyd in sy raadsplan, en hul geliefdes weer aan God te wy.
Onthou God het jou geroep in sy getrouheid tot die gemeenskap met sy Seun Jesus Christus, onse Here.
Dank God dat sy geregtigheid jou die reg gee, deur sy groot genade in ChristusJesus, om mede-erfgenaam, saam met sy Seun in die koninkryk van God te wees. Hy sal jou nooit vergeet nie. Hy is altyd daar vir jou.
Grote God, ek gee aan U al die eer en heerlikheid elke dag. U is die enigste onveranderlike in my lewe. U bly getrou van geslag tot geslag. Deur u genade bly U die bron van my lewe. U het my en my geliefdes uitverkies van voor die grondlegging van die wêreld. Ek is geroep deur U tot die gemeenskap met u Seun Jesus Christus, my Here. Vandag sal ek u Naam aan die wêreld bekend maak, U my redder. Amen.