Die ma ry met haar twee kleintjies van drie en vyf jaar oud in die kar. Die kinders is onhebbelik en sy raas en raas, maar hulle wil nie luister nie, wat nog te sê stilsit. Sy raak toe baie kwaad en trek van die pad af, dissiplineer die twee sommer goed met die plat hand, en laat hulle weer agter inklim en sê: "Nou wil ek nie weer 'n woord hoor nie."
Na 'n paar minute sê die seuntjie: "Mamma, ek wil iets sê."
Sy sê: "Net vinnig, want jy is veronderstel om stil te bly."
Hy: "Ek wil net vir Mamma sê, liewe Jesus gaan hiervan hoor."
ooOOoo
Klein Kabous is gefassineerd met die groot ou Familiebybel met die bladsye van dun, brose papier. Hy maak dit oop en blaai versigtig daardeur. Meteens val iets tussen twee van die bladsye uit, en Kabous tel dit dadelik, maar baie versigtig op en kyk baie aandagtig daarna. Dis 'n ou boomblaar wat baie jare gelede tussen die bladsye platgedruk is.
"Ma, kyk net wat ek gekry het!" gil Kabous.
"Wat het jy daar, my kind?" vra sy ma.
Met 'n frons op sy voorkop sê Kabous: "Ek dink dis Adam se klere."