Saturday, 21 December 2024

Kerkgenotjies: Kersfees

Kersfees is om die draai en in een van Kimberley se groot winkelsentrums sit Vader Krismis op 'n groot stoel en praat met die kleintjies wat verby hom loop.

Klein Peter is baie bly om Vader Krismis te sien en klim pens en pootjies op sy skoot. Vader Kersfees vra die heel belangrikste vraag in die wêreld: "En wat wil jy vir Kersfees hê?"

Klein Peter staar geskok na Vader Krismis, voordat hy met 'n bewende stemmetjie vra: "Het jy dan nie my e-pos gekry nie?"   

ooOOoo

'n Mamma vra haar seuntjie wat hy graag vir Kersfees wil hê.
"Ek wil 'n bababoetie hê," is sy antwoord.
"O, maar dit is 'n groot versoek," sê sy ma. "Hoekom wil jy 'n boetie hê?"
"Want 'n mens kan nie altyd al die skuld op die hond pak nie!" verduidelik hy.

ooOOoo

'n Kleuterskoolonderwyseres hou 'n ogie oor haar klas vol kinders, terwyl hulle tekeninge maak van Kersfees en al die karakters wat daarin voorkom. So nou en dan stap sy rond om te sien wat die kinders teken, en gaan staan by 'n paar van hulle om te gesels oor wat hulle uitbeeld.

Sy kom by klein Pulani, wat baie hard aan die werk is, en vra wat haar tekening uitbeeld.
Pulani: "Ek teken vir God." 
Die onderwyseres huiwer vir 'n oomblik en sê toe: "Maar niemand weet hoe God lyk nie."
Pulani sê: "Hulle sal binnekort."