Friday, 22 May 2026

Wat sê ons vir God?

Gabs Malan het die  volgende stukkie geskryf wat vandag nog net soveel waarde het en veral hier rondom Pinkstertyd.

"My laatlam meisiekind het 'n manier gehad om klein-klein briefies vir my te laat rondlê. Ek het al hierdie briefies in 'n album gebêre. Ek het onlangs weer deur die album geblaai en my daaraan verkneukel. Ek deel graag so drie van die briefies:

* 'Ek hou baie van mamma, want ma is so goet vir ons almal,'

* 'Liewe Muis, ek is so jammer ek het nie my tand nie. My ma het hom weggegooi, maar ek het my brief in my beste skoene gesit vir jou. Muis, sal jy asb vir my 'n bietjie geld gee vir my tand. Liefde Lindi .'

* 'Mamma is die beste mamma wat ek nog ooit gehad het. Ek het mamma baie lief.'

Hoe baie beteken hierdie soort briefies nie vir ons as ouers nie? Dis daar om te lees as die dae koud word en die nagte lank - in die dae van eensaamheid en vertwyfeling - dan gee dit my weer mooi herinnerings en moed - hierdie uitdrukkings van liefde van my dogter ...

Wat sê ons vir God?

Sê ons vir Hom hoe lief ons Hom het??

Sê ons ook vir Hom dat hy die beste God en Vader is?

Of is die meeste gesprekke met Hom slegs versoeke?
* Here, help my asseblief ...
* Maak tog my kind gesond ...
* Help tog my man ...
* Bring ons dogter veilig terug ...
* Seën ons gesin ...

Hoeveel DANKBAARHEID is daar in ons gebede? 

Watter wonderlike oomblikke is daar vir ons aardse moeders as ons kinders hul arms om ons kom sit en vir ons sê dat hulle ons so liefhet?

En ek en God?

Is ek nie ook die ontvanger van sy liefde nie? Sorg Hy nie ook al die jare vir my nie?
* Sy bewaring
* Sy liefde
* Sy vergifnis
* Sy hulp
* Sy troue sorg
* Sy bedagsaamheid
* Sy groot sondaarsliefde wat, ja, ook vir my insluit.
* Hy wat selfs bereid was om sy kosbaarste, SY SEUN te stuur om my te kom losmaak van die sondebande wat my vasgevang gehou het.

WAT SÊ EK VIR SOVEEL LIEFDE? 

Hemelse Vader
Ek het U baie lief!
Dankie vir alles wat U vir my is en doen.
Dankie dat U U is, en dat U U elke dag oor my ontferm.
Dankie vir Jesus -
Ek het U baie lief!
Jesus, ek het U baie lief - dankie dat U gekom het om my weer in ere by God te herstel sodat ek nou by God kan uitkom en met Hom kan praat soos 'n kind met sy vader.
Dankie dat U die Heilige Gees gestuur het om in my te kom woonb, om vir my elke dag te lei op die pad van die lewe - my te help om reg te kies, my lief te hê en te vertroos.
Dankie, Heilige Gees van God.
Ek het U baie lief! ...

Dankie, klein-klein Lindi, vir jou briefies en die GROOT les van dankbaarheid - dankbaarheid wat 'n mens in woorde kan sê om 'n ander se hart bly te maak.

Ek wil die Here loof,
Ek wil die Here loof
Met my hele hart
wil ek U loof!

Dawid het gesê: 'Ek het U hartlik lief, Here, my sterkte.' (Ps. 18)

Loflied op die almag en genade van God.
Ps. 33:1 'o REGVERDIGES, jubel in die Here! 'n Loflied betaam die opregtes.'

Ps 37:4 'en verlustig jou in die Here; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart.'"

[Spore - Mei/Junie 1984 - bl.13-14]