Friday, 8 May 2026

Uitreik: Onbelangrik

In een van ons stede het 'n jong getroude vrou - intelligent, ryk en baie populêr - haar begin kwel oor die toestand van die wêreld, en sy het gewonder wat sy daaraan kan doen. Gewildheid gee vir 'n mens 'n sekere soort platform wat nie almal het nie. Om daardie platform ten goede te benut, is nie elkeen se begeerte nie. 

Eindelik het sy iets gedoen wat baie merkwaardig was vir 'n vrou met haar wêreldwyse agtergrond. Sy het na haar naaste buurvrou toe gestap en gesê: "Marie, jy kan vir my lag as jy wil, of jy kan weier as jy so voel, maar ek het net kom hoor of ons nie gereeld kan saamkom om vir die wêreld te bid nie. Dit mag vir jou onbelangrik klink, maar iets dryf my om dit te doen.

Haar buurvrou het haar verbaas aangekyk. Sy het eers vermoed dat dit 'n grap kan wees. Maar toe sy sien dat die ander een ernstig is, het sy ingewillig om aan die versoek te voldoen.

So het die twee vroue dan gereeld saamgekom vir gebed, en ander het mettertyd by hulle aangesluit.

Nadat hulle 'n geruime tyd vir die wêreld gebid het, het dit egter vir die vroue duidelik geword dat hulle geen hoop het om die wêreld te hervorm nie. Daarom het hulle besluit om die euwels in hulle onmiddellike omgewing en woonbuurt in die gebed te begin bekamp.

Hulle het mense geteiken en vir hulle by die naam gebid. 
* Mense vir wie gesinswaardes nie belangrik is nie. 
* Hulle wat daarvan gehou het om partytjies te hou.
* Hulle wat die elmboog te hoog te lig ten koste van hulle gesin. 
* Diegene wat graag naweek na naweek in klubs en kroeë deurgebring het.

Een vir een het diegene wat hulle geteiken het in gebed en gesprek tot bekering gekom.

Immoraliteit, buitensporige probleme, gesinsgeweld, gesinsverwaarlosing en hartseer in die omgewing het gaandeweg minder geword en die gemeenskap het ongemerk 'n verandering ondergaan.

Hierdie aanvanklik poging van 'n aarselende individu wat nie presies geweet het waar om te begin nie, het uiteindelik 'n omwenteling in tientalle lewens in haar onmiddellike omgewing tot gevolg gehad.  

Onbelangrik? JY??

Jy weet nie hoe belangrik jy kan wees nie.

[N.V.P.]