Woensdae en Sondae het ons 'n Mossiestilte - dis daardie kort oomblik wat ons stil raak en die dag begin met 'n boodskap op die blog. Daarom pas Mossiedag so mooi by vandag se stukkie waar ons die versekering kry dat God vir ons sorg en dat Hy 'n plan het vir elkeen van ons.
Rondom haar sit die groepie bekende gesigte van moeë vrouens. Net ’n paar tree verder is die hoë draad van die konsentrasiekamp. Sy slaan haar Bybel oop en begin lees. Sy het in die donker ure van die nag geworstel met God en Hom gesmeek vir ʼn boodskap om hierdie vrouens te bemoedig, want wie weet hoe lank nog ...
Anette lees die woorde van Matt 10:29 “Is twee mossies nie vir ’n sent te koop nie, en tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie.”
Terwyl sy besig is om hierdie woorde te lees, kom sit daar ’n vaal klein mossie op haar skouer.
Die groepie vrouens staar in verbasing na wat voor hulle gebeur, en so word die mossie, die teken van hoop in die onmoontlike omstandighede van die konsentrasiekamp in Bethulie. Dit was fantasties om in die maande wat volg te sien hoe die mossies van Bethulie ’n baken van geloof en hoop word vir hierdie vrouens.
Op 21 Mei 1902 is die oorlog verby. Anette het op pad terug na haar huis gestop by ’n vrou met invloed en haar vertel van die mossieboodskap. Sy het dit weer oorvertel en genl. Jan Smuts het in 1923 die mossie op die land se kleinste muntstuk (kwartpennie) laat verskyn.
Amper 80 jaar later sit Jak de Priester in ’n park in Londen.
Sy geld is op, hy kry nie werk nie, hy mis die meisie van sy drome , sonskyn en biltong. Hy slaan sy klein silwer Bybeltjie oop en lees die “mossie”-boodskap en bid vir die soveelste keer vir werk!
Vroeg die volgende oggend lui sy telefoon en dis die oproep waarvoor hy gewag het. Hy spring op die eerste trein en begin met ʼn lang dag se onderhoude. Moeg maar gelukkig en met ’n permanente werk klim hy weer laatmiddag op die trein.
Toe hy inklim sien hy ’n muntstuk op die vloer lê, hy tel dit op, en daar op ’n trein in Londen hou hy ’n Suid-Afrikaanse 1c in sy hand ...
[Geleen op FB]