Saturday, 23 May 2026

Kerkgenotjies: Honde

* Die man van Courier Guy staan met ’n pakkie voor die deur, toe ’n blaffende hond skielik om die hoek van die huis aangestorm kom. 
Kerplaks! laat hy die pakkie val. 
Hy snel soos ’n pyl uit ’n boog deur die voortuin en spring soos ’n hoogspringer oor die voorhekkie. Voorwaar 'n nuwe Suid-Afrikaanse rekord.
Intussen gaan die deur oop en die vrou van die huis sê laggend: “Haai, meneer, blaffende honde byt nie, jy ken mos darem die spreekwoord, of hoe?”
“Kan so wees, mevrou” hyg die man uitasem, “maar wie sê daai hond ken die spreekwoord?”

* ’n Boerboel is besig om in vullisdromme rond te snuffel. Hy kan egter beswaarlik beweeg, want hy balanseer terselfdertyd ‘n telefoonpaal op sy nek.
‘n Windhond kom daar aangewaai en vra: “En dié affêre op jou nek nou?”
“Dis om die wolwe weg te hou,” sê die boerboel.
Windhond: “Jy’s besimpeld, man, daar’s mos nie wolwe in Suid-Afrika nie.”
Boerboel: “Wys jou net hoe goed die taktiek werk.”

* Ek staan verlede Saterdag in die ry by Midas. Twee ouens verder af in die ry is druk in gesprek. Sê die een vir die ander: "Ek haat mense wat honde aanhou. Hulle is 'n klomp sissies wat nie genoeg guts het om iemand self te byt nie."