Woorde is klanke met bepaalde betekenis, en as ons die betekenis van die klanke verstaan, kan ons met mekaar praat.
Woorde gee uitdrukking aan 'n mens se gedagtes en gesindhede, en uit iemand se woorde kan naastenby afgelei word wie of wat hy in werklikheid is.
Woorde kan tot groot SEËN aangewend word, maar hulle kan ook uiters NADELIG wees. Dit hang daarvan af hoe hulle gebruik word. Woorde wat stig en bemoedig kan wonders verrig; maar woorde wat onverskillig of ligsinnig uitgespreek word, kan tot onaangenaamheid en ergernis lei.
Ons verhouding met die Here bepaal tot 'n groot mate die gehalte van ons woorde en die inhoud van ons gesprekke; deur ons woorde kom ons geestelike toestand maklik tot openbaring. Nie uit wat iemand voorgee om te wees nie, maar uit sy woorde, wanneer hy in geselskap van sy vriende is, sal 'n mens weet of hy 'n Christen is of 'n namaaksel is.
Woorde wat eenmaal uitgespreek is, verdwyn nie sommer in die niet om vir altyd verby en vergete te wees nie. Hulle aanslag en invloed duur voort, ten goede of ten kwade, selfs lank nadat die persoon wat hulle gebesig het, reeds van die toneel verdwyn het.
Woorde kan NOOIT herroep of uitgewis word nie. Bowendien word daar in die Hemel rekord gehou van elke woord wat op aarde uitgespreek word.
Woorde is belangrik, daarom moet ons VERSIGTIG wees hoe ons hulle gebruik. Die Here sien ons woorde nog voordat hulle ons lippe verlaat. Daardie vuil grap mag miskien die lagspiere prikkel van diegene wat na ons luister; die ydellike gebruik van die Here se Naam mag dalk ons vriende beïndruk of ons ego stut; maar wanneer die Boeke in die Oordeelsdag oopgemaak word, sal ons woorde daar wees om vir of teen ons te getuig - en niemand sal kan ontken dat dit sy eie woorde is nie.
Dit is slegs met die hulp van die Here en in Sy krag dat die versoeking om ons tonge in boosheid los te laat, oorwin kan word. As ons aan Hom behoort, sal Hy ons nie net die oorwinning gee nie, maar ons ook in staat stel om woorde te spreek wat Hom behaag en vir ons medemens tot nut en seën kan wees.
Dan hoef ons nie beskaamd te staan in die dag wanneer daar van ons rekenskap geëis word nie.
