Friday, 28 August 2026

Hoe lyk jou lewe vandag?

KORRELTJIES SAND ...
Hoe lyk jou lewe vandag ... hoe voel jy vandag?
SEESAND ... voel jy of die seesand jou nadertrek en wil instoot in die blou oseaan, groot, onstuimig, daar waar die branders jou omgooi en rondskommel tot jy klein word?
RIVIERSAND ... voel jy soos riviersand vanoggend, eenkant lê jy, verlate, verlore, ver weg van alles en almal, net die voëltjies in die bome hoor jou geroep, jy lê uitgespoeg op die wal. Moeg van spartel en beur, tussen stompe, rommel en takke deur, beur jy, hyg jy, skreeu jy, net jy alleen.
DRYFSAND ... is jou lewe dalk soos dryfsand? Word jy ingesluk en versmoor deur die duisende korreltjies sand, word jy afgetrek tot onder in die diepste put van donkerte en vrees? Waaraan klou jy vandag vas? Dryf jy, val jy, beur jy?
WOESTYNSAND ... is jou lewe dalk soos woestynsand vandag? Warm, droog, moeg, uitgeput, verlate, alleen, verlore, verstote.
BOUSAND ... is jy dalk soos bousand vandag? Sterk, stewig, rigtingvas, regop, getrou, jou fondamente stewig geanker en gepleister met Jesus se spesiale bousand. Maak nie saak watter tipe sand jy vanoggend in jou hart ronddra nie, ONTHOU:
SEESAND: JESUS het op die seewater geloop en HY gryp jou as die branders jou omgooi.
RIVIERSAND: JESUS kan orals sien, ook hier sal HY jou optel, afwas en heel maak.
DRYFSAND: Jy het nie vashouplek nodig as jy sink nie. JESUS is jou anker, jou kabel, jou redder. HY trek jou uit die dieptes uit en maak jou nuut.
WOESTYNSAND: JESUS was vir dae alleen in die woestyn, honger, dors. Hy het die duiwel trotseer, Sy honger en dors is geles deur SY VADER en HY was die oorwinnaar. Drink van JESUS se LEWENDE WATER en jy sal NOOIT weer dors word nie.
BOUSAND: JESUS bou al die hoekstene van ons lewe, HY het ons gevorm na SY beeld, HY het die beste BOUSAND ooit gebruik om ons te vorm. SY genade, troos en liefde, kan nooit breek nie. Sy fondamente is stewig geanker, dit hou vir ewig en ewig. 

[Aangestuur]