Saturday, 8 August 2026

Kerkgenotjies: Blapse uit die vroulike geledere

* ’n Vrou (kom ons los maar die naam!) vertel van ’n senior moment: ’n Paar dae gelede het ek na afloop van ’n vergadering in ’n hotel desperaat na my motorsleutels gesoek. Hulle was nie in my handsak nie. ’n Vinnige soektog in die lokaal het ook niks opgelewer nie.
 
Skielik het ek besef dat ek hulle in die motor gelos het. Waansinnig het ek na die parkeerplek gestorm.
My man was al by tye baie kwaad omdat ek die sleutels in die aansitter los. My teorie is die beste plek om sleutels nie te verloor nie, is om hulle in die aansitter te los. My man se teorie is dat die motor gesteel kan word. 

Toe ek deur die deur van die parkeergarage bars, het ek tot hierdie skrikwekkende gevolgtrekking gekom. Sy teorie was reg. Die parkeerplek was leeg!
 
Ek het dadelik die polisie gebel. Ek het hulle van my ramp vertel en bely dat ek die sleutels in die motor gelos het en dat dit gesteel is.
 
Toe het ek die moeilikste oproep van almal gemaak: “My liefie,” het ek gestamel, ek noem hom altyd “my liefie” in tye soos hierdie. “Ek het my sleutels in die motor gelos en dit is gesteel.”
 
Daar was ’n paar oomblikke van stilte. Ek het gedink dat ek die oproep verloor, maar toe hoor ek sy stem. “Maak jy dalk ‘n grap?” blaf hy, “ek het jou afgelaai!”
 
Nou was dit my beurt om stil te bly. Na ’n rukkie sê ek skaam: “Wel, jy kan my nou maar kom haal.”
Hy antwoord: “Ek sal, sodra ek hierdie polisieman kan oortuig dat ek nie jou motor gesteel het nie!”

ooOOoo

* ’n Dame met ’n sekere kleur hare gaan Binnelandse Sake toe om 'n sterfgeval te registreer.
Klerk: Wat is die oorledene se naam?
Dame: Petrus Johannes Botha.
Klerk: Geslag?
Dame: Nee, darem nie, hy’s in sy slaap dood!