Dit is Maandag 9:15. Tandpyn tref my soos 'n "nine mil-koeël." Ek het van disprins tot brandewyn probeer, maar tevergeefs.
Die tandpyn het kláár nesgeskop in my linkerkantste kies.
En die tandarts kon my eers die volgende dag spreek. Dán sou hulle my moes indruk, moes ek goed verstaan.
Ek was voorbereid op minstens drie stopsels en 'n tand wat getrek moet word.
"Nee, wat. Daar is nie fout met jou tande nie. Die fout lê by jou verstandtande. Hulle moet so gou as moontlik uit ..."
Ek het nie 'n woord verder gehoor nie, nie van waarom óf daarom nie. Niks! Selfs die tandpyn het koers gekies. Al wat oorgebly het, was ek en die toenemende vrees wat 'n volle 24 uur diens gedoen het. Elke dag. Tot die Saterdagoggend om 7:00.
Sommer vroeg dié snerpende oggend moes ek toe in 'n fyn "kebaaitjie" inspring. Dit het ook maar net hier en daar behoorlik toegemaak. Die klem het geval op my fyn heupbeenstruktuur.
Nou ja, as ek eerlik wil wees, het ek gelyk soos 'n mollige seekoeitjie in 'n ballet-tutu.
Die suster het met 'n blink bakkie "en so aan" die kamer binnegekom.
"Waarvoor is daai inspuitings?"
"Om jou spoeg te laat opdroog."
"Sowaar. Maar ek het nie spoeg nie."
"Jy hét! Alle normale mense het, en jy lyk ver van abnormaal af."
Skielik was die spuitnaald gereed in haar hand. Sy't gewag vir my boud. Ek het op my sy gedraai, my oë toegeknyp en hard op my tande gekners.
Selfs ek kon nie glo 'n matriekleerling kan só absurd bang wees vir 'n ou dun naaldjie nie.
Toe die tandarts en narkotiseur die kamer binnekom, was ek net vaagweg bewus van hulle. My kop was toe al besig om koers te kies, weg van hospitale en dokters.
My ma moes my vrae beantwoord. Ek kon nie.
Ek onthou net my 1,85 m lange lyf moes op 'n bedjies van 1,75 pas. Dit was vir my snaaks en ek is in 'n ligte luim die teater in.
Iemand het nog gesê: "Lekker slaap," toe is ek al weg.
[Hierdie koerantartikelfotostaat is gemaak in 1992 - dit het verskyn onder die opskrif: "Jong skrywers - jy kan ook R140 wen."]
