* "Dominee, is dit sonde om op Sondae gholf te speel?"
"Wel, soos jy speel is dit sonde om op enige dag te speel."
* 'n Dominee word gevra of hy vir die politici bid.
"Nee, Meneer. Ek kyk na die politici en bid vir die land en sy mense."
* Die gemeentelid is ernstig siek en die dominee vat die stofpad uit die dorp om die man te gaan besoek. Daar aangeland, vind hy die sieke in die bed, vaal om die kiewe. Op die tafel langs die bed, staan 'n halwe bottel brandewyn.
Die dominee groet en slaan dan sommer toe: "Ag nee, broer, is dit dan nou werklik al troos wat jy in hierdie tyd van beproewing het?"
"Gelukkig nie, Dominee," kom dit flou. "Daar staan darem nog twee volles in die kas."