Friday 5 April 2024

Terugblik: Die gebed van 'n boom


Wanneer u by my verbystap
Sonder om my raak te sien
of dalk my takkies ongemerk te kneus
Wag 'n bietjie en staan eers stil.

Dis ek wat in koue winternagte
jou haard verwarm
Dis my vriendelike koeltes
wat jou teen die snikhete sonstrale laaf.
Dis my sappige vrugte wat jou op jou reis
verkwik en jou dors les.

Ek is die balke wat jou dak oor jou hoof vashou
Ek is die blad van jou tafel en die bed waarop jy rus
Ek is die hout van jou boot
en die handvatsel van jou gereedskap
Uit my kom die brood wat voed
en die blom vol kleur en geur.

Ek is die deur van jou woning
die hout van jou wiegie
en die kis van jou graf.

Uit my is eenmaal balke gekap
Waarmee 'n kruis gemaak is
Ek was die hout van Gods altaar vir sy seun
die hout wat 'n brug geword het.

Uit my stamme gebreek en fyngemaal deur die meule
Kom papier, ook die van Die Boek van God
oor my staan die Boodskap
van hoop en lewe geskrywe
My blare is tot genesing van die Nasies
Open. 22:2

Ek vra u daarom
Moet my nie beskadig of vergeet nie.
Kniel liewer by my en dank God vir my.

[Uit: Dorsfontein: Dutoitspan-gemeentemaandblad - April 1984]