Tuesday 22 August 2023

Potpourri: Misdaad knou die kraai in jou

Met die jaareinde wat nader kom, raak mense meer as gewoonlik bewus van sekuriteit. Terwyl vakansieplanne gemaak word, word oppassers vir hond en huis gereël. Waarskynlik meer vir die huis as vir die hond.

Beleggings word beveilig. Dokumente met vertroulike inligting word in kluise toegesluit. Kluise word agter slot en grendel beveilig. Die sleutels van dié slotte word veilig bewaar.

Dekades gelede het ons 'n voëlpark besoek. Een van die besoekers het vir die kraai in 'n hok 'n blink muntstuk gegee. Die swart geveerde het die muntstuk in sy snawel geneem en ons met sy blink ogies aangestaar. Hy het rondgekyk en 'n sprong af grond gegee. Toe het hy die muntstuk sorgvuldig onder die waterbak weggesteek. Hy het 'n oomblik getalm, besluit dit is nie veilig nie en die muntstuk in sy nes gaan wegsteek. Weer was hy onseker. Ons het 'n halfuur staan en kyk hoe die arme voël plek na plek beproef. 

Sonder rus vir sy gemoed.  

Die samelewing dwing ons waarskynlik om soos hierdie kraai op te tree. Jy kies 'n wagwoord vir jou rekenaar, maar besluit die stelsel is nie veilig nie. Jy moet jou wagwoord verander.

Later sit jy met wagwoord op wagwoord op wagwoord. Een vir jou rekenaar by die werk. Een vir jou rekenaar by die huis. Een vir die program waarop jy werk. Een vir die bank.

Te midde van die diefwering, sekuriteitskameras, talle wagwoorde en persoonlike identifikasienommers raak diegene wat nie voorheen paranoïes was nie, effens onrustig.

En die kraai binne-in ons wonder: "Bestaan daar 'n plek wat waarlik veilig is?"    

*Noordkaap 22 November 2017 - Karin Muller

[Dankie vir Anoniem wat die uitknipsel gestuur het. Besoek gerus Netwerk24 (Noordkaap Bulletin) se gereelde rubrieke - daar is baie stof tot nadenke in hierdie rubrieke.]