Thursday 19 September 2024

Liefde kos nie geld nie

   
‘n Boer het ‘n paar babahondjies gehad wat hy wou verkoop. Hy gaan sit 'n advertensie op Spar se kennisgewingbord en verf toe ook ‘n plakkaat waar hy die hondjies adverteer en dit sit hy sommer voor sy plaashek op. Hy was nog besig om die bord vas te slaan, toe voel hy skielik iemand trek aan sy baadjie. Hy kyk om, vas in die oë van ‘n klein seuntjie.
 
"Oom, ek wil graag een van oom se hondjies koop."

"Wel,” sê die boer, "hierdie hondjies het ‘n baie goeie ma en pa en hulle kos nogal duur, ou Seun."
 
Die seuntjie laat sy kop sak en dink vir ‘n oomblik. Toe druk hy sy hand diep in sy broeksak, en kom met ‘n handvol kleingeld te voorskyn.

"Sal hierdie genoeg wees dat ek net kan kyk, asseblief, Oom?" vra hy.

"Seker," sê die boer. En met ‘n fluit roep hy: “Kom Lady, kom wys jou kinders!”
 
Uit die hondehok kom Lady, met vier bondeltjies lomp-lomp agterna.

Die seuntjie druk sy gesiggie teen die draad en sy oë blink van pure opgewondenheid. Die hondjies is al amper by die draad, toe die seuntjie nog iets by die hondehok sien roer. Stadig kom nog ‘n bondeltjie te voorskyn, heelwat kleiner as die ander hondjies. Met ‘n mank sukkelende drafstappie begin die laaste klein hondjie naderkom. Hy probeer sy bes om die ander in te haal.

"Ek wil graag daardie hondjie hê,” sê die seuntjie, en wys met sy vinger na die kruppel hondjie. Die boer kniel langs die seuntjie en sê: "Ai, Seun, jy wil nie daardie hondjie hê nie. Hy sal nooit kan hardloop en speel soos al die ander hondjies nie."
 
Die seuntjie staan terug van die draad af en begin sy broekpyp oprol. Stadig begin twee kunsbeentjies wys, wat met ‘n stut vas is, en eindig in twee kunsskoene.

"Oom sien, ek kan self ook nie te lekker hardloop nie, en hy sal iemand nodig hê wat dit kan verstaan."
 
Met trane in sy oë tel die boer die kruppel hondjie op en gee hom versigtig vir die seuntjie oor die draad aan.

"Hoeveel kos hy, Oom?" vra die seuntjie.

"Hy’s verniet, Seun. Hy kos vir jou niks nie. Liefde kos mos nie geld nie."

 Al is ons swak of het 'n gebrek, is ons steeds belangrik. Onse Koning en Oppermeester was ook gewond en verniel, daarom stel Hy ook belang in die afvlerk, die gebrekkige en die gebroke mens. Moenie alleen voel nie - kyk op - dis waar jou hulp vandaan kom. Al gebeur dit dat jy nie saam met die res van die wêreld op spoed kan beweeg nie, is daar steeds iemand aan wie jy vreugde kan verskaf en wat jou nodig het ... omdat jy verstaan.