Wednesday 4 September 2024

Hy ken jou hart

Die ma hoor haar seuntjie by sy bed kniel, maar hy sê net die alfabet op. Sy vra toe hoekom hy dit doen en nie bid nie?

Die seuntjie antwoord sy ma en sê: "Mamma, ek weet nie wat om te bid nie. Jesus ken my hartjie en Hy sal die letters reg rangskik en Sy eie woorde maak."

Wat vir my hier uitstaan is hierdie seuntjie se geloof en vertroue dat Jesus alles sal regmaak. Hy sal weet wat om te doen met die letters wat hy opgesê het!

Ek wil vandag vir jou sê, al is jou trane en seer so erg dat jy nie woorde kan uitkry nie en sukkel om te praat soos jy snik - die Here ken die alfabet van elke hart en weet wat ons wil sê nog voor ons dit genoem het.

Gee vandag als wat so seermaak vir Jesus. Hy ken jou hart. Hy het ons so vreeslik baie lief.