Sunday 1 September 2024

Lentegebed

Liewe Heer, ek aanbid U op hierdie lentemôre as die Skepper God
Nuwe lewe bot orals rondom my uit
Kom en vernuwe my ook deur U Heilige Gees
U ken my hart so goed, Here
Hier aan die begin van die lente vra ek U om al die dooie hout
van my lewe weg te snoei, en in die plek daarvan helderkleurige liefdesbloeisels te plant
Lekkerruik-mensweesblomme van sagte marsmallowspienk
en wit omdat my hart met U Gees gevul is
en ek elke dag met U water van liefde verfris kan word
Voed my met U Woord, liefde, vrede,vreugde en genade
sodat elke nuwe bot die heerlike Geesvrugte sal voortbring
Meester van my hart, laat groei in my U liefde
sodat ander U in my sal sien, hoor en voel
Dankie vir die pragtige lenteseisoen
waarmee U ons seën.
Amen

[Dankie, Rosetta vir die deel van hierdie lentegebed]