Die lewe kan soms so wreed wees, Here. Ménse kan soms so onmenslik wreed wees. Soms krap hulle die lagie van U liefde sommer so met een vuil vinger van ‘n mens se menswees af. En dan maak dit ‘n stukkende gat op ‘n mens se hart. Soms klou net een sinnetjie aan ‘n mens se lyf soos vuil slierte see aan ‘n stukkende visnet. En dis al wat jou hart sien en hoor en voel. Heeldag. Soms Here, vat jammer nie die blou kolle op ‘n mens se hart weg nie. En dan land jy op die lewe se sypaadjie. Jou menswees vol gate en stukkend. Kop-onderstebo en hangskouers.
Dankie, dat U ook daar is. Daar op die lewe se sypaadjie by U kop-onderstebo hangskouer-kinders. Dankie dat U stil langs U kind gaan sit, sonder vrae of wonder of verwyt. Net so stil. Net daar. En wanneer die tyd reg is, skuif U stil-versigtig nader, sit U arm om die bloukol-flenter kind en sê sag: “Kom, dat Ek jou toevou in My liefde.”
Toevou is so ‘n sagte woord, Here. Dit laat my dink aan ‘n mamma wat haar baba versigtig toevou in ‘n sagte warm kombersie. Met sorg, en soveel liefde en omgee. ‘n Oomblik waar tyd nie saakmaak nie, en woorde nie nodig is nie. Net ‘n stil sagte toevou. U vou my toe in U liefde, Here. Versigtig, sodat my stukkende plekke nie nog meer stukkend skaaf nie. U oë is altyd sag en warm. En vir daardie oomblik is dit net ek en U. En wanneer U my toegevou het in U volmaakte liefde, my kloppende hart begin stil en rustig word, sit U u arm om my en hou my styf teen U vas. En wanneer my huil opgehou het, fluister U stil, net soos vir Elia: “Wat maak jy hier ... hier so kop-onderstebo en hangskouers?”
En wanneer ek soos ‘n klein kindjie vir U vertel, die kwaad en die teleurstelling en die stukkend uitborrel, sommer so deurmekaar en agterstevoor, luister U stil, U oë vol begrip. En in die vertel raak my hart stil, Here. Soos ‘n klein kindjie wat rustig raak en weet dat sy Pa daar is. Dat Hy nooit sal weggaan nie. En dat alles weer sal reg wees.
Dankie dat U u liefde so sag, versigtig om my vou. Dankie dat daardie liefde die koue ‘ek gee nie meer om nie’, uit my hart uitjaag. En dankie dat U u hand altyd weer na my toe uitsteek, my ophelp en saam met my verder stap. Dankie dat U oë my altyd raaksien, maak nie saak hoe vinnig ek deur die lewe hardloop nie. Dankie dat U kyk sag en vol liefde en sorg en omgee is.
Dankie vir daardie ‘toevou’ wanneer ek dit so baie nodig het, Here. Dankie dat U nooit weggaan nie.
Nooit nie se nooit. En dis genoeg.
Amen.
[Bron: KouPos - Uitgawe 126 - Katrienkie@2023: ingestuur deur Tinka Botes]