Saturday 28 September 2024

Kerkgenotjies: Die tweeling

Die predikant op Carnavon het huisbesoek gaan doen by 'n huisgesin waar die ouers 'n identiese tweeling het. Alhoewel die mannetjies identies gelyk het, het hul persoonlikhede soos dag en nag van mekaar verskil. Klein Juan was 'n rustige outjie, maar klein Karl was 'n mannetjie wat baie lief daarvoor was om vir almal poetse te bak ... 'n besige kind wat nie die woord stilsit in sy woordeskat het nie.  

Tydens die huisbesoek het donimee dan ook verneem of die seuns darem in die aande voor hulle gaan slaap hul dag afsluit met 'n gebedjie, waarop Mamma bevestig dat dit wel die geval is.

Klein Juan het aangebied om vir dominee sy vaardighede met sy gebedjie te illustreer en hy trek sommer dadelik weg: "Liewe Jesus, baie dankie vir my mammie en pappie en die kos wat ek elke dag eet. Maak asseblief my boetie 'n soet seun, want hy is party dae baie stout! Amen."

Klein Karl het tjoepstil na sy boetie se gebed gesit en luister, waarop hy as volg reageer het: "Liewe Jesus, baie dankie vir my mammie en pappie en die kos wat ek elke dag eet. Sorg asseblief dat my boetie gestraf word, want hy skinder van my by jou!"