Sunday 12 May 2024

'n Ma se liefde is die grootste

'n Parodie op 1 Korinthiërs 13 vir die moderne ma.

Al sou ek die mooiste huis hê en die smaaklikste etes vir my huismense voorberei, maar ek doen dit nie met liefde nie, dan is ek so waardeloos soos 'n leë kastrol of 'n stukkende eierklitser. Al is ek die besigste ma in die beheerraad en ek koop vir my kinders die duurste sporttoerusting, maar ek het nie tyd om hulle langs die sportveld aan te spoor nie, dan sal dit my niks baat nie. Al koop ek 'n kamer vol opvoedkundige speelgoed en betaal ek sakke vol geld vir ekstra klasse, maar ekself sit nie by my kinders en speel of worstel met die skoolwerk nie, dan is ek nog nie 'n ware moeder nie. 'n Liefdevolle ma is geduldig - sy tel maar die klere en speelgoed op.

'n Liefdevolle ma is lankmoedig en vriendelik - sy laai haar motortjie vol kletsende, swetende skoolkinders. 

Sy vergelyk nie haar kinders met ander nie en sy is nie verwaand oor hulle prestasie nie. Sy bedek alle skrape met liefde en pleister en glo in haar kinders, hoop net die beste en verdra al die klaery en kritiek.

'n Opregte drukkie en 'n intieme gesprek bly lank in 'n kinderhart, maar gestrykte wasgoed word weer vuil en 'n netjiese huis word weer deurmekaar en vol stof ...

Eendag as die Volmaakte gekom het, sal jou huis en sy binnekant tot niet gaan, maar die lewende siele van jou kinders sal ondersoek word.    

[Bron: Onbekend]