Al sou die vyeboom nie bot nie, Here, en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie. Al sou die olyf-oes misluk, en die lande geen oes lewer nie ...
En al sou die verlang tot diep in my oë gaan lê, en die bang en onsekerheid bietjies-bietjies in my hart wegkruip.
Al sou die pad kilometers vol grond en gate voor my voete uitloop, en my hart se probeer moeg raak.
Al sou my oë sukkel om die son raak te sien, die son wat U elke dag op my pad kom neersit.
Al sou my kop aanhou probeer om my hart te verstaan, en my bid party dae moeg voor U kom kniel ... nogtans sal ek in U bly glo.
Sal ek glo dat U hart goed is, en liefde is.
Nogtans sal ek elke môre stil luister of ek U stem hoor. Want dit is U wat vir my die krag gee om elke oggend op te staan en my stukkie pad voluit te stap.
Dit is U wat my hart se huil stilmaak en die stukkies verlang gaan wegbêre, daar waar dit hoort.
Dit is U wat die verlede se onthou toevou in U hande, en dit eenkant neersit, daar waar dit my nie meer kan raaksien nie.
Dit is U wat langs my kniel en my optel, as die pad vir my te lank word.
Daarom sal ek glimlag oor U.
Daarom sal ek elke oggend U vrede diep in my hart gaan wegbêre.
Daarom sal ek my kop oplig en die lewe stil in die oë kyk ... want U, Here, loop saam met my. Elke dag. Altyd. En dit is vir my genoeg.
Amen
[Anoniem]