Sunday 26 May 2024

Ek wens ...

Ek wens ek kon die plooi tussen jou oë wegvee
en vir jou 'n bietjie lewensvreugde gee ...
Reg of verkeerd meet jy met grade of 'n liniaal
en sukses word met materiële dinge bepaal.

Jy eet en slaap en werk
met sawens televisie 
en Sondae kerk -
dieselfde roetine van dag tot dag
en selde sien ek jou huil of lag.

Ek wens jy kon na 'n simfonie luister
en soet liefdeswoordjies in my ore fluister.
Ek wens jy kon praat met ywer en vuur
oor die vorm van kuns of die sin van kultuur.

Ek wens jy kon in ekstase raak oor 'n tuin
of die wolkpatrone in die hemelruim.
Kon jy ook maar op verbeeldingsvlugte gaan
en meer van die onsienlike dinge verstaan.

Jou genot put jy
uit 'n glasie wat klink ...
en sigarette
wat vir my stink!
Ek wens jy wil ophou om
Bacchus en Dagon en Mammon
te dien ...
en God's voorsorg en liefde
in Sy skeppingswerk sien! 

[Magdaleen - Die Taalgenoot * November 1982]

Dankie, vir die persoon wat die gedig aangestuur het  - enige inligting vir erkenningdoeleindes sal waardeer word.