Die Amerikaanse skrywer, Alan Cohen, vertel: In 'n klein dorpie in Spanje het 'n pa met die naam, Jorge, 'n bitter argument met sy seun, Paco, gehad. Die volgende oggend het Jorge ontdek dat Paco se bed leeg is - hy het van die huis af gedros.
Oorweldig deur spyt en berou het Jorge selfondersoek gedoen en geweet sy kind is vir hom belangriker as enigiets anders op aarde. Hy het besef dat hy as pa misluk het en wou weer van voor af met sy seun begin. Jorge het na 'n bekende winkel in die middedorp gegaan en 'n groot kennisgewing in die venster geplaas met die volgende boodskap: "Paco, kom huis toe! Ek is lief vir jou. Ontmoet my môre-oggend hier."
Die volgende oggend het Jorge na die winkel gegaan waar hy nie minder nie as sewe jong seuns met die naam, Paco, aangetref het en wat ook onder dergelike omstandighede van die huis af gedros het. Elkeen het die roepstem van liefde beantwoord met die hoop dat dit sý pa was wat hom met ope arms huis toe nooi.
Op Vadersdag, wanneer Pa altyd oorlaai word met waardering en liefde, is dit miskien gepas vir pa's om 'n bietjie selfondersoek te doen en te vra of hulle as rolmodelle van vaderskap al die lof en liefdesbetuigings waardig is. Dis nie om pretbederwer te wees nie, maar om 'n ernstige realiteit van ons tyd onder oë te neem. Kinders sal 'n pa nie onthou vir die materiële dinge wat hy aan hulle verskaf het nie, maar vir die manier waarop hy hulle met liefde vertroetel het.
Wat ook al in ons tyd deur verskillende kitsoplossers gesê word, die primêre behoefte van 'n kind is liefde - waarvoor daar geen plaasvervanger is nie.
Die meeste van ons as pa's sal dinge anders doen as ons weer ons kinders van voor af kan grootmaak. Een ding het die lewe ons geleer, mits ons oop was om geleer te word: daar is geen probleem wat die liefde nie kan oplos nie; geen knoop wat die liefde nie kan ontrafel nie; geen generasiegaping wat die liefde nie kan oorbrug nie.
Om dié soort liefde 'n konkrete werklikheid te maak, móét ons meer tyd met ons kinders deurbring. Die lewe gryp ons so maklik in sy seekatgreep vas dat ons vir ons kinders vreemdelinge word. Past. Gary Stroope het tereg gesê: "Ek het nog nooit 'n geslag kinders só ouerloos gesien nie."
Ons ken 'n kollega wat gedink het dat die werk wat hy vir die Here doen van kardinale belang is. Vroeg soggens, voordat die kinders op was, was hy al uit die huis uit en saans wanneer hy terugkom, slaap hulle reeds. Toe word hy een middernag plotseling tot stilstand geruk deur 'n briefie wat sy agtjarige dogtertjie aan sy kopkussing vasgespeld het. In haar kinderhandskriffie skryf sy: "Pappa, ek is baie lief vir Pappa, maar ek sien Pappa nooit om dit vir jou te sê nie. Nou skryf ek dit maar. Ek is baie lief vir Pappa." En met die vergewensgesindheid van 'n kind sluit sy af met honderd onverdiende soentjies onder aan die brief.
Soos 'n rotsstorting het berou sy hart oorweldig. Sy kon nie verstaan nie toe hy haar om middernag uit haar bedjie optel en haar warm lyfie aan sy bors druk en belowe: "Nooit weer sal jy hunker na die liefde van 'n pa nie."
Hoe maklik ontaard ons lewenstyl nie tot dié van mense wat met die oop deur na die straat toe lewe en ons lewe uitdeel aan almal wat verbykom, terwyl ons vlees en bloed in ons eie huis smag na ons liefde en teenwoordigheid.
Ons is tog so besig met "belangrike"dinge - selfs met ander ouers se kinders, terwyl ons eie kinders hunker na ons liefde en nabyheid.
Ralph Waldo Emerson het gesê: "Wie jy is, praat so hard dat ek nie kan hoor wat jy sê nie."
Ons kinders leer eintlik eers wie ons werklik is wanneer ons genoeg tyd saam met hulle deurdring. Ons móét tyd máák vir ons kinders! Miskien moet ons ter liefdevolle ontnugtering van pa's wat té besig is om tyd te hê om saam met hul kinders deur te bring, na Stan Gibhardt luister: "Ek het na jou gekyk, Pa, en geglimlag.Ek het gehoop jy sou my sien maar jy het nie. Ek het vir jou gesê, ek is lief vir jou en gewag vir 'n antwoord, maar jy het nie. Ek het vir jou gevra om buite saam met my te kom bal speel, maar jy het nie. Ek het 'n tent in die agterplaas opgeslaan en gehoop dat jy één nag saam met my sal deurbring, maar jy het nie. Ek het iemand nodig gehad om mee te gesels en my gedagtes te deel. Ek het gedink dat jy sou kom kyk, maar jy het nie. Ek het jou vertel van my eerste wedstryd en gehoop dat jy sou kom kyk, maar jy het nie. Ek het jou gevra om my jeug met my te deel, maar jy was té besig en jy kon nie. My land het my opgeroep vir militêre diensplig en jy het gevra dat ek veilig moet tuiskom, maar ek het nie.
[Bron: Die Taalgenoot, Ja-nee ..., Junie 1999, bl. 45]