Wednesday 5 June 2024

Tyd is die grootste geskenk

Elke dag is 'n tydgleuf wat sonder voorbehoud aan ons geskenk word en wat ons óf benut óf verspil. Elkeen van ons ontvang elke dag ewe veel van hierdie kosbare geskenk. Daar word geen onderskeid tussen mense gemaak nie.

Daar is 24 uur wat bestuur moet word, of soos vir baie die geval is, wat jóú bestuur, jou uitput en jou ook skuldig laat voel. Die een faktor wat sommige mense dalk meer suksesvol maak, is die feit dat hulle die kuns bemeester het om hulle tyd beter as ander te bestuur of te beplan. 

Tyd is die een produk wat nie gespaar, gekoop of geruil kan word nie. 

Tyd is 'n ruwe en onbewerkte produk. Dit vra om gebruik, benut en ontwikkel te word. Die maklikste uitweg is natuurlik om net passasiers daarvan te word, wat tot gevolg het dat dit nooit omskep word in 'n instrument waarmee ek myself kan ontwikkel en my volle potensiaal kan bereik nie. Passiewe tydspassasiers verspeel baie lewensure en -jare om eendag te ontdek dat die tyd hulle ingehaal het en dat hulle nooit hulle drome verwesenlik het nie.

Wat maak jy met hierdie grootse geskenk?

[Verwerk uit Maksiman, Maart 2003]