Die werknemers van ‘n groot maatskappy het van hul etensuur teruggekeer en hulle is by die ingangsportaal van die kantore begroet deur die volgende kennisgewing:
“Die persoon wat jou die meeste verhinder het om te groei in dié onderneming, is gister oorlede. Ons nooi jou uit na die roudiens en laaste eerbetoon wat vanmiddag in die gimnasium om 16h00 sal plaasvind.”
Almal was eers geskok deur die gedagte dat een van hul kollegas oorlede is, maar na ‘n rukkie was almal baie nuuskierig om uit vind wie die persoon is wat oorlede is. Geen verdere inligting was tot hulle beskikking nie en hulle moes tot 16h00 wag.
Die afwagting het gegroei soos wat die werknemers by die gimnasium opgedaag het om hul laaste eer te betoon aan die oorledene. Almal het gewonder wie die persoon is wat hulle die meeste verhinder het in hul groei in die onderneming en elke een het gespekuleer oor wie dit moontlik kan wees. Die meeste se gevoel was in elk geval: “Maak nie regtig nou meer saak wie dit is nie, ten minste is hy of sy nie meer daar nie!”
Een vir een het die werknemers nader gestaan aan die oop kis en wanneer hulle in die kis kyk, was almal sprakeloos. Hulle was geskok, so asof iemand hul diepste wese aangeraak het.
Daar was ‘n spieël binne-in die kis en elkeen wat inkyk, kon sy eie refleksie in die kisbodem sien. ‘n Nota was langs die spieël aangebring wat as volg gelees het:
“Daar is slegs een persoon wat in staat is om beperkinge op jou groei te plaas - dit is JYSELF.”
Jou lewe verander nie as jou werkgewer verander, of jou vriende verander, of jou ouers verander, of jou lewensmaat verander of jou kinders verander nie. Jou lewe verander slegs wanneer JY verander, wanneer jy verder strek as wat jy dink jy in staat is om te strek. Wanneer jy glo dat jy tot alles in staat is, slegs dan eers sal jy werklik tot alles in staat wees. Jy moet lief wees vir jouself en in jouself glo, want hoe anders sal jy jou naaste kan liefhê of in jou naaste glo as jy nie in jouself glo nie.
Skrifgedeelte: Fil. 4:13
Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.
[Oorspronklike skrywer onbekend]