Tuesday 15 October 2024

Die Here voorsien ...

Bybelvertaling is selde 'n werk met gereelde ure en 'n vaste inkomste.

Dit is heeltemal normaal vir vertalers om verskillende maniere te hê om hulle inkomste aan te vul. Daar is byvoorbeeld vertalers wat hulle landerye moet bewerk om te oorleef, maar daar is seker nie baie wat 24 kinders moet onderhou, terwyl hulle besig is met 'n Bybelvertaling nie.  

Insuthosi Jamir woon in Dimapur in Indië en is een van die vertalers van die Bybel in Nagamese.

Die Bybelgenootskap van Indië ondersteun hom terwyl hy aan die Bybelvertaling werk. Alhoewel dit tans sy enigste inkomste is, het hy en sy vrou, Imeinla, 'n weeshuis vir 24 kinders.

"Ek kom uit 'n baie arm gesin, maar ek het altyd geweet ek wil ander, veral weeskinders, help," vertel Insuthosi. "Ons het met drie kinders begin maar gou-gou het meer gekom. Sommige is in hospitale agtergelaat en ander op straat.

"Dit is finansieel baie moeilik, maar ek weet dat die Here sal voorsien." Hy vertel dat hy dikwels net 'n paar muntstukke in sy sak het, maar die Here voorsien altyd. Onlangs het hy nie genoeg geld gehad om die kinders se skoolgeld te betaal nie, en toe kom daar 'n bydrae van 'n vriend in Amerika - die presiese bedrag wat benodig is.

"Om betrokke te wees by die Nagamese Bybelvertaling is vir my 'n wonderlike voorreg. Bybelvertaling en die kinders het my egter geleer die Here sal voorsien."

Indië se ongeveer *1 miljard mense praat sowat 3 372 tale. Die Bybelgenootskap van Indië het reeds die volledige Bybel in 65 tale beskikbaar gestel. Bybelvertaling is 'n prioriteit vir hierdie Bybelgenootskap. Soos Insuthosi, glo hulle ook dat die Here die nodige fondse en kundigheid sal voorsien.   

* Verouderde inligting van 2015

[Bron: Somer 2015 die saaier]