Sunday 13 October 2024

Mossiestilte: 1 Kron. 17:25

Want U, my God, het die oor van u kneg geopen, dat U vir hom 'n huis sal stig; daarom het u kneg vrymoedigheid gevind om voor u aangesig te bid.

Dit is nodig dat jy jouself en God herinner aan God se beloftes aan jou. God vergeet egter nie en is 'n waarmaker van sy Woord. Jesus het belowe dat Hy vir ons 'n woning sal voorberei en terugkom om ons te kom haal. (Sien Joh. 14) Na aanleiding van sy beloftes vind ons bemoediging om sterk te staan en in gebed te tree al voel ons nie goed genoeg of bevoeg nie. Ons kruip nie weg in vrees om te bid nie, maar kom voor sy aangesig in gebed met vrymoedigheid met die wete dat God ons gebied om tot Hom te bid en Hom te vra wat ons nodig het vir vandag.

Dankie onse Vader, wat in die hemele is, dat U neerbuigende goedheid my gebed optel en gehoor daaraan sal gee. Reg voor u aangesig kom ek in gebed om U te smeek en te bid vir my behoeftes en u aangesig te prys en te verheerlik. U gaan om vir my 'n plek te berei dat ek kan wees waar U is. U weet reeds lankal wat my behoeftes is en sal in elkeen voorsien na die rydom van U heerlikheid. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel.]