In die bouproses was daar 'n baie groot rots wat in sy pad was, en hy het alles probeer om die rots geskuif te kry. Hy het dit getrek, hy het dit gestoot, hy het naderhand sy fietsie gaan haal en 'n tou daarom vasgemaak en dit so probeer wegtrek, maar alles tevergeefs. Die sweet het hom afgetap, en hy het moedeloos langs sy pa gaan sit wat onder 'n boom op 'n bank gesit het, en hierdie hele petalje aanskou het. Sy pa het hom vol liefde aangekyk en vir hom gevra: "Boetman, het jy nou alles probeer?"
Baie verontwaardig sê hy vir sy pa: "Pappa het gesien hoe hard ek gesukkel het, ek is nou so moeg en die rots beweeg nie."
Sy pa het saggies oor sy koppie gestreel, en vir hom gesê: "Maar jy het nog nie alles probeer nie."
Die seuntjie het opgespring en oortuig van sy saak gesê: "Maar Pappa het self gesien hoe sukkel ek."
En toe antwoord sy pa in 'n sagte stem, "Nee, my Seun, jy het nog nie alles probeer nie, want jy het my nog nie gevra nie."
Here, hoe dikwels het ons hierdie vreeslike rots in ons pad, en niks wat ons doen of sê beweeg dit nie, en as ons dan op 'n hopie neersak en ons wil huil van moedeloosheid, dan vra U so saggies: "
My kind, het jy my al gevra?" Ons erken vandag dat ons eers in ons eie krag probeer, en as niks wil werk nie, dan gaan ons na U toe as 'n laaste poging. Here, van hierdie dag af, onderneem ek om eerste by u voete te gaan sit, dan het ek nie nodig om my eie kragte so uit te put nie.
Amen