Sunday 6 October 2024

Mossiestilte: Jes. 41:17

Die ellendiges en behoeftiges soek water, maar daar is nie; hul tong verdroog van dors; Ek, die Here sal hulle verhoor; Ek, die God van Israel, sal hulle nie verlaat nie.

Dit is God se natuur, om aan armes en ellendiges, verstotelinge en die wat verneder is, sy barmhartigheid te bewys en sal 'n geknakte riet nie breek nie. God verhoor altyd; die wat arm van Gees is; salig is hulle, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele. (Matt. 5:3)
Reik vandag uit na God en sien hoe sy goedheid jou verfris en weer krag gee. Die Here sal vir jou water gee waar jy dit nie sal verwag nie. (Sien vers 18 en 19)
... sodat God verheerlik sal word. (vers 20)

Here, my God, en Vader van almal wat U vrees, na U kom ek vanoggend, want daar is niemand anders nie. Vanoggend wil ek soos Petrus sê: Na wie toe sal ons gaan? U is die alleenwyse God, die Alpha en die Omega. U laat my drink by riviere in die woestyn; U sal my nooit verlaat nie. U skep 'n weg waar daar geen weg is nie. Waar my pad ophou en versper word, maak U 'n nuwe weg vir my, om u Naam te verheerlik en groot te maak. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel.]