Monday 7 October 2024

Wie is dood?

Ek lees dat Martin Luther ’n baie sensitiewe persoonlikheid gehad het. Gevolglik het hy van tyd tot tyd baie negatief en selfs depressief geraak. Volgens oorlewering kon dit vir ’n rukkie aanhou. 

So, op ’n keer toe dit weer gelyk het of hy nie uit hierdie gat kon kom nie, het sy vrou hoogs gefrustreerd een oggend na die ontbyttafel toe gekom met ’n swart band om haar arm, soos dit destyds die gewoonte was om te doen wanneer iemand gesterf het. 

“Wie is dood,” het Luther gevra? 

“Wel,” was haar antwoord, “soos jy die afgelope tyd optree, is ek seker jou God moet dood wees.” Dit het gewerk!

Weet jy, net so lewe ons baie keer met swart roubandjies asof God dood is! Ons praat baie keer asof ons God dood is! Ons gesigte wys baie keer dat God dood is! Ons moraal getuig baie keer daarvan dat ons God dood is!
 
Staan uit die gat van moedeloosheid op omdat God koning is! En omdat julle Koning lewe!