Sunday 7 May 2023

Ken jy die antwoord?

*

Wat is die heel beste middel teen spanning en stres, altyd tot almal se beskikking en heeltemal gratis?
Die antwoord is lag.
(Hierdie middel/medikasie is deel van ons DNA - deur ons Maker ingebou - gebruik dit net.]
Die heerlike lag wat diep in ons wese begin, wat ons mond vul met gelag en ons tong met gejubel.
Selfs net ‘n glimlag is genoeg om ons gedagtes ‘n positiewe wending te laat neem.
Dit is ons sin vir humor wat ons die komiese in een of ander situasie laat sien en ons lagspiere prikkel, en hoe nodig het ons dit nie in hierdie wêreld van vandag met al sy uitdagings nie!
Hoe gereeld gebruik ons hierdie middel?
Ons moet egter onthou dat die lewe nie altyd maanskyn en rose is nie.
Dan moet ons nie soek na iets om oor te lag nie, want dit sal beslis nie ons sin vir humor weerspieël nie, maar eerder ‘n gebrek aan liefde en empatie.
Soms is ons geneig om ‘n berg van ‘n molshoop te maak, en dit is hier waar ‘n sin vir humor ons kan red uit ‘n situasie wat na ons mening net te ernstig geraak het.
As geestelike wesens op ‘n pad van lig, sê ons: “Dankie Vader, vir die vermoë om te kan lag!”
Dis die beste raad en boonop is dit verniet!
Deel dit uit, maar gebruik hierdie raad ook so dikwels as moontlik.

[*Gaan lees gerus die stukkie in Mieliestronk.]