Wednesday 31 May 2023

Ruikers van die lewe


Elkeen het sy eie tuintjie in sy lewe
Want elkeen is die tuiner van sy eie lewe.
God het aan ons elkeen saad gegee.
Hoe ons dit plant en versorg sal beslis
of ons die groot voorreg sal hê
om eendag voor die
groot Tuinier te verskyn - 
dalk met 'n bossie dooie
of verlepte blommetjies
of dalk met 'n bossie fyn,
broos blommetjies,
lewendig en aangenaam gegeur.

Deur die jare heen sal jy jou blommetjies se saad oes.
Moenie huiwerig wees om dit wild te strooi nie.
Hoe welkom is 'n bossie vriendelikheid
of hulpvaardigheid getooi met 'n glimlag
nie dikwels aan 'n persoon nie?

Maai die onkruid van sonde uit en verbrand dit,
want dit sal altyd in jou blombedding verskyn.
En as dit eers diep gewortel is,
raak jy moeilik daarvan ontslae.

Voor jou deur sal daar ook baie bossies blomme neergesit word.
Party sal eg lyk,
maar later sal jy sien dit is slegs kunsblomme.
Ander sal verwelk en tot niet gaan,
maar ander sal vars en geurig bly
en elke dag 'n ryper skoonheid afgee.

Vir dié wat 'n bossie kwaadstook aan jou stuur,
stuur aan hulle 'n bossie mooi opregte komplimente met 'n uitnodiging na God se huis.

Vir die wat 'n bossie onvriendelikheid stuur,
stuur aan hulle 'n bossie vriendelikheid,
gegeur met een van Dawid se Psalms.

Vir dié wat aan jou 'n bossie haat stuur,
stuur aan hulle 'n bossie liefde,
getooi met die oggend se doudruppels.

Vir die wat aan jou 'n bossie norsheid stuur,
stuur aan hulle 'n bossie blymoedigheid saam met 'n brief van Paulus.

Aan die wat aan jou 'n bossie van GELOOF, HOOP en LIEFDE stuur, 
stuur jy dubbel soveel terug met seënwense.
Die grootste van die drie ruikers
sal dié een wees van die LIEFDE,
met Korinthiers 13 ingesluit

[Dankie, Anoniem, vir hierdie waarheid.]