Dis hierdie tyd van die jaar, Here ... die tyd wat almal se lywe vir hulle harte weghardloop. Die tyd wat mense verby mekaar skarrel, en mekaar se oë miskyk. Die tyd van keerdatums en afsluit en klaarmaak voor Kersfees. Die tyd van eksamen skryf en eksamendruk en ‘n kind se bangwees vir nog ‘n prysuitdeling wat dalk te veel gaan vra.
Ek hou nie van hierdie tyd van die jaar nie, Here. Dit maak my bang. Ek verlang terug na die tyd voor e-posse en whatsapps en zoom ... ek mis die posseël se gom wat op ‘n brief vasplak. Die opgewonde-bly-wees en wag vir die brief om oor ‘n paar dae eers by sy bestemming te kom. Ek verlang na die tyd toe die foon nog teen die muur vas was. Toe niemand ongeduldig en kwaai geraak het as daar geen antwoord was nie. Ek verlang na die tyd toe mense mekaar nog in die oë kon kyk en lag en gesels wanneer hulle eet. Nou, Here ... sit elkeen met ‘n stukkie rekenaar in die hand, die kos en kuier en saamwees is sommer net ‘n bysaak. Ek verlang na die tyd toe kinders in bome geklim het, en laataand fiets gery het. Ek verlang na die tyd toe mammas en pappas in die aande by die huis was, sonder vergaderings en wegwees met werk.
Ons lywe hardloop so vinnig, Here. Ons probeer elke whatsapp, elke e-pos, elke oproep betyds inhardloop ... en dan hardloop ons so baie keer verby U. Soms stamp ons U sommer net eenkant, want ons is so bang ons is nie betyds by die volgende stukkie stop nie.
Help my, Here, om stil te gaan staan. Help my om die blommetjie wat U so opgewonde langs die pad na my toe uithou, raak te sien. Maak my oë oop vir U glimlag in ‘n klein kindjie se lag, dat ek U kan sien, Here. Stop my en maak my sit op die groen gras wat U so mooi helder ingekleur het ... en sit weer die verwondering in my hart vir elke wolkie wat patroontjies teken in die lug. Elkeen anders en uniek. Vat my na ‘n plekkie waar U en ek alleen kan wees, waar dit so stil is dat ek U liefde kan voel en hoor. Daar waar daar nie fone en rekenaars en vergaderings en e-posse is nie. Daar waar dit net U en ek is, Here.
Dankie dat U in stilwees vir my wag ... dat U U hand uitsteek om my te stop wanneer ek vir my eie hart wegloop. Dankie dat U dadelik hoor as my hart so baie keer bang en vinnig begin klop. Dankie dat U juis dan stil by my kom sit, my hart in U hande toevou. Dankie dat U my hart versigtig teen U hart hou, totdat dit stukkie vir stukkie stadiger begin klop. Totdat dit in pas kom met U hart se klop, Here. En wanneer dit rustig is, sit U my hart stil-versigtig terug in my lyf. Dankie dat U my herinner om U liefde en U omgee en U sorg stukkie vir stukkie in te asem. Bietjie vir bietjie ... een asem op ‘n slag. Sodat my hart en my lyf kan stil word. Dankie dat U my leer om een voet voor die ander te sit, en nie duisend treë te probeer inpas, teen tyd verby nie. Een voet voor die ander, Here. Een asem op ‘n slag. U liefde wat my regop hou. En U stem wat sag vir my sê: "Kom na My toe, Ek sien jy raak moeg. Kom, dat Ek jou hart stil teen Myne kan sit, sodat jy vir ‘n rukkie net kan rus."
Dankie, Here. U alleen is vir my genoeg.
Skrywer onbekend
Dankie, Babsie, dat jy hierdie waarheid met ons deel.