Saturday 25 November 2023

Kerkgenotjies: 'n Bekkige dier

EENDAG sien ’n kêrel ’n advertensiebord voor ’n huis. Op die bord staan: Pratende hond te koop.

Hy lui die deurklokkie en die hond se eienaar maak sy verskyning en sê aan hom dat die hond in die agterplaas is.

Hy loop toe na die agterkant van die huis en daar sien hy ’n brak wat op ’n polletjie gras sit.

''Praat jy?'' vra hy.

''Natuuurlik," sê die brak.

''Dis interessant. Vertel my meer. Wat is jou storie?''

''Wel,'' sê die brak en kyk hom stip in die oë, ''ek was nog maar net ’n jong brakkie toe ek al besef het dat ek hierdie vermoë besit, en ek wou graag ’n speurder word. Maar toe kom die Departement van Buitelandse Sake van my te hore en hulle besluit ek is die volmaakte internasionale spioen. Kort voor lank stuur hulle my toe van land tot land waar ek allerhande hooggeplaastes afgeluister het sonder dat dié ’n benul gehad het dat ek kon begryp wat hulle sê. Sedert James Bond was daar nog nie ’n geheime agent soos ek nie. Ek was agt jaar lank ons land se waardevolste spioen. Maar toe word ek moeg daarvoor en keer ek terug om ’n fabriek te stig wat hondekos vervaardig, wat toe ook mettertyd die mees geslaagde onderneming in sy soort in die land was. Ek is selfs bekroon as die knorrigste, maar suksesvolste entrepreneur van die jaar! Ek het ook ’n dierbare teef van ’n vrou gehad en baie jong hondjies, maar nou is ek net ’n pensionaris.

'Die kêrel slaan sy hande in ongeloof saam. Hy haas hom terug na die brak se eienaar en vra hoeveel hy vir die hond wil hê.

''Tien rand,'' sê die eienaar.

''Tien rand?'' vra die kêrel verbaas. ''Hierdie hond is die grootste fenomeen wat ek nog nog ooit teëgekom het. Hoe op aarde kan hy vir jou slegs tien rand werd wees?''

''Man,'' sug die eienaar, ''’n mens kan nie ’n woord glo wat dié ou drommel sê nie!''