Friday, 25 September 2026

Is ons gereed om ons Skepper te ontmoet?

Marthie van der Merwe vertel:

Ek ry kerk toe (soos gewoonlik) en natuurlik alweer laat. Toe ek 8h55 by die kerk se hek kom, staan 'n broer met 'n clipboard. Ek draai my ruit af. "Jammer, maar jy kan nie ingaan nie. Ons het die 500 kapasiteit bereik."

Ek ruk my dadelik op, want ek is deel van die orkes en my man is immers die voorsitter en ek is elke week in die kerk.

Maar sy woorde bly dieselfde: "Jammer jy's te laat! Jy kan nie ingaan nie."

En skielik is dit soos yskaswater oor my. Sien ek die Engel met die rol in sy hand (en die vers kom in my gedagtes "Nie almal wat vir my sê Here, Here sal die koninkryk binnegaan nie. Jy's te laat jy kan nie ingaan nie."

Wat as ek nou my oë in die ewigheid oopgemaak het? Wat as ek voor die Hemelpoorte gestaan het? Wat as die basuin geblaas het en my lampie was nie vol olie nie? Jammer helaas te laat!

Dit gaan dan nie saakmaak hoeveel Sondae of Saterdae ek in die kerk was, of op watter raad ek gedien het nie, of watter musiekinstrument ek vir die kerk bespeel het nie.

Wat wel gaan saakmaak:
- Is my naam geskryf in die Boek van die Lewe?
- Het ek 'n verhouding met die God van die Hemel en Aarde?
- Is ek gereed?

Hoe verskriklik was daardie werklikheid!

Daar was niks wat ek kon doen nie. Ek moes maar verleë omdraai in my kar en terugry huis toe.

* En die werklikheid is ... 
* Dis my eie toedoen ...
* As ek agterbly, sal dit ook my eie toedoen wees ...

When I stand on that great Judgement morning ... I'LL FACE NOBODY'S RECORD BUT MY OWN.

Is ons gereed om ons Skepper te ontmoet?