Thursday, 17 September 2026

Dink hieroor: Die onverganklike Woord

Die Bybel is die oudste Boek wat aan ons bekend is. Daar is baie min boeke wat selfs meer as 400 jaar oud is, terwyl die Bybel oor baie eeue heen terug dateer. Tog is sy boodskap vandag nog net so geldig en effektief soos wat dit eeue gelede was.

Die Bybel is nie net die mees geliefde Boek in die wêreld nie, maar ook die mees gehate Boek. Skaars was die Bybel in die mens se besit, of hy ontdek dat dit sonde veroordeel, hooghartigheid aftakel, en die versaking van sonde as vereiste stel.

In die Bybel het die mens homself gevind soos hy is. Hy het 'n kykie in die diepste verborgenhede van sy siel gekry; en omdat die prentjie wat hy van homself gekry het, hom in die verleentheid gebring het, het hy die Bybel begin haat.

Dit het gelei tot volgehoue pogings deur die eeue heen om geloof in die Bybel te ondermyn en die Bybel self te vernietig. Dit is verban, verbrand, en met geweld uit besit van die mense ontneem. Alles is in die stryd gewerp om vir goed van die Bybel ontslae te raak. Dog al die pogings het skromelik misluk.

Die Bybel het al die heftige aanslae wat al teen hom gemaak is, weerstaan en oorleef. En terwyl baie van die boeke wat geskrywe is om sy waarhede te ontken en te weerlê, reeds in die vergetelheid verdwyn het, leef die Bybel voort en bly dit steeds die mees gesogte Boek van alle tye.

Die aanslag teen die Bybel is nog altyd aan die gang; en hoewel dit miskien nie oral so openlik en geweldadig plaasvind, word dit deur die modernisme en liberalisme ondergrawe en deur die oorgrote meerderheid van 'n sogenaamde Christelike gemeenskap afgewater en verwerp. Sy grondwaarhede word selfs van sommige kansels af verdraai en verbloem; en daar is baie mense wat graag sal wil sien dat die Bybel heeltemal van die aardbodem af moet verdwyn.

Maar ons het rede om te glo dat die Bybel selfs in 'n vinnig veranderende wêreld, en ten spyte van die hewigste kritiek en felste pogings om sy gesag te vernietig, sal bly voortbestaan om die boodskap van God aan die mens oor te dra.

God waak oor Sy Woord en sal dit tot die einde toe onder alle omstandighede bewaar. 

Hy sê in Matt. 24:35: "Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar My woorde sal nooit verbygaan nie."  

[AJ Steyn]