Saturday 12 March 2022

150 genadejare: Dutoitspan vanaf 1974 tot 2016 in 'n neutedop (Deel 1)


'n Gemeente is 'n dinamiese, lewende "organisme" wat voortdurende veranderings en vooruitgang en in sommige gevalle selfs agteruitgang die hoof moet bied. Dit is alles nodig sodat daar groei kan plaasvind. Baie tyd word spandeer om stelsels in plek te kry en te verbeter, sodat die fokus op die geestelike bearbeiding kan val.

Predikante kom en gaan en elkeen los geestelike voetspore wat onuitwisbare indrukke laat op diégene wat agterbly. Albei partye begin met 'n nuwe reis. Die gemeente moet weer 'n nuwe predikant beroep wat bereid is om die belange, probleme, maar ook unieke uitdagings in die gemeente die hoof te bied. Aan die ander kant neem die dominee wat na 'n ander gemeente gaan, ook ervarings en herinnerings met hom saam. En in beide gevalle is dit 'n wonderlike nuwe begin ... vir baie van die proponente was Dutoitspan 'n leerskool, 'n plek waar hulle hul eerste tree op hul beroepspad kon gee.

Die gemeente was na die vertrek van ds. JH Siebert na Murraysburg, vir etlike maande vakant. In hierdie tyd het ds. ML van Rensburg, emeritus-leraar, waargeneem, Hy was 'n neef van tannie Kas Joubert, 'n jarelange gemeentelid en ouma van Carina Badenhorst.

Ds. Siebert het demissie ontvang, maar hy het besluit om eers aan die einde van Desember 1973 te vertrek. Die kerk was daardie jaar tydens die Kersdiens en die middernagdiens stampvol, bykomende stoele moes ingedra word. Dit was die taak van die konsulent, ds. VO Nel van Diamantveld-gemeente, om die kerkraadsvergadering te lei wanneer hulle 'n nuwe predikant beroep.

Na herhaalde beroepe het ds HC de Wet van Epping-Wes die beroep aanvaar. Dit was ongeveer 5 Oktober 1974. Hulle het aan die begin maar moeilik aangepas - vanaf die Kaap na die droë warm Noord-Kaap vra op sigself moed. Maar die omgee-mense in die gemeente het dit makliker gemaak. Ds. De Wet het besluit om die kerkraadsafsluitings sommer by die pastorie te hou. Daar was genoeg ruimte, bome en gras vir 'n aangename en gesellige buiteluggeleentheid. In een woord kan daarna verwys word as 'n afsluitingsvrugtefees. Heerlike seisoensvrugte en waatlemoen was altyd aan die orde van die dag, saam met geselsies, staaltjies en stories. En so tussen die geselsery deur, is moontlikhede en planne geopper vir die volgende jaar - 'n "vrugtevolle" of "vrugbare" afsluiting.

Ds. Van Rensburg het nog vir 'n tyd lank saam met ds. De Wet gewerk, omdat die lidmaattal eintlik vir 'n tweede leraar regverdig het. Finansies het egter hierdie aksie vir 'n lank tyd gekniehalter. Na vele kerkraadsvergaderings en verskeie moontlikhede, het die kerkraad wel later besluit om 'n medeleraar te beroep, en die keuse het op prop. CMV Wait geval, wat dan ook die beroep aanvaar het.

'n Tweede predikant dwing die gemeente om in 'n tweede pastorie te belê. 'n Belangrike vereiste daardie jare was dat die pastorie binne die gemeentegrense moes val. Twee huise was op daardie stadium beskikbaar - die huis van mev. Van der Westhuizen, die orrelis, en 'n huis in Blackingstraat. Op aanbeveling van prop. Wait se ouers het die keuse op Blackingstraat 55 geval. Daar is toe terstond met die aankooponderhandelings begin. So begin 'n nuwe era in die geskiedenis van die gemeente - die luuksheid van twee predikante, maar ook die finansiële bekommernis wat dit teweeggebring het.

Prop. CMV Wait is deur sy skoonpa, ds. Möller, redakteur van die Kerkbode op daardie stadium, op 29 Januarie 1979 bevestig. Ds. Wait was hart en siel deel van die gemeente totdat hy die beroep na die Sonnekus-gemeente in die Kaap op 25 April 1982 aanvaar het.

Na die vertrek van ds. Wait het die kerkraad gebruik gemaak van prop. NC van Wyk, die weermagkapelaan, se dienste.

'n Baie groot tragedie het die pastoriepaar gedurende hulle verblyf in Dutoitspan getref. Ds. De Wet se derde oudste seun, Pierre, was die trotse eienaar van 'n tweedehandse Volksie. Van tyd tot tyd het die Volkswagen Kewer meer aandag gevra en moes die enjinkap gelig word. Een so 'n betrokke middag, met die Kewer opgedomkrag, was Pierre onder die kar, en om een of ander onverklaarbare rede het die Volksie van die domkrag gegly en Pierre onder die kar vasgepen. Ds. vertel dat hy met ongelooflike krag van Bo, die motor kon oplig, sodat die ander vir Pierre kon uitkry. Nooit vantevore of daarna het hy daardie gevoel van onmenslike krag ervaar nie. Pierre was ernstig beseer en is dadelik hospitaal toe geneem. Hy het baie goed op die behandeling gereageer, wat die hoop op volkome herstel in die gemeente laat opvlam het. Terwyl hy in die hospitaal was, kry hy egter geelsig, waarvan hy nie herstel het nie en hy is in Maart 1983 oorlede. Die gemeente het 'n geestelike laer om die pastorie getrek en op verskeie manier uitgereik na ds. Hennie en mev. Yvonne de Wet. Die pastoriepaar het dit baie moeilik verwerk. Hulle het nog twee jaar na hierdie voorval in die gemeente gearbei.

Ds. De Wet was ook 'n passievolle skrywer. 'n Talent waaroor hy baie beskeie was. Sy boek, Laat ons boekevat, se eerste druk was in 1967, en teen 1979 het dit reeds 'n sesde druk beleef. Een van sy ander boeke, My Tye In U Hand, was baie gewild.

Hierdie boek is o.a. as volg geadverteer nadat dit uit druk was: "'n Heruitgawe van die bekende dagboek My Tye In U Hand sal stellig oral verwelkom word. In eenvoudige, bevatlike taal word die groot waarhede rondom die sorg van God in alle omstandighede meegedeel. Dit is leesstof vir oud en jonk - alhoewel die klem 'n ietsie meer op bejaardes gelê word."


Die kerkraad het besluit om 'n medeleraar te beroep en die keuse het op prop. NC van Wyk geval wat reeds met inspirerende bydraes 'n verskil in die gemeente gemaak het. Hy aanvaar die beroep en is in Augustus 1983 met handoplegging bevestig deur sy predikant van Pretoria. Hy het met hart en siel gewerk en was 'n betrokke predikant op vele terreine tot en met sy vertrek in 1987. Ds. Van Wyk se ander groot liefde was sport, en meer spesifiek rugby, hy was nie net 'n baie goeie rugbyspeler nie, hy het selfs vir die Griekwa-rugbyspan uitgedraf.

Na die vertrek van ds. De Wet in 1985 het ds. Van Wyk van Blackingstraat 55 na die pastorie in Connollyplek 13 getrek. In ds. Nico se eie woorde: "Dutoitspan was werklik 'n wonderlike gemeente om ons bediening te kon begin."

[Word vervolg]