Ds. Holloway, wat van die NG
Sendinggemeente Niekerkshoop gekom het, was vanaf Mei 1996 as tentmaker in die
gemeente behulpsaam. Hy is toe beroep en het ds. Van der Walt opgevolg. Vanaf
1996 het hy ook as hospitaalleraar gehelp. Die deernis, opregte belangstelling,
omgee, tyd, woorde van bemoediging en sy kragtige gebede langs elke
hospitaalbed, het hom geliefd en gewaardeerd gemaak. Hy het aartsbiskop Desmond
Tutu in 1982 ontmoet - die man wat hom geleer het om die mensdom lief te hê en
na almal uit te reik.
Ds. Holloway het 'n skenking gekry om die banke in die kerk oor te doen en om nuwe matte aan te koop. Dit is so broodnodig om gereeld onderhoud op 'n relatiewe klein skaal te doen - anders kan dit in 'n finansiële uitdaging ontaard.
Later het ds. Keydy O'Callaghan, 'n weermagkapelaan, as tentmaker vanaf Januarie 2000 in die gemeente gewerk totdat hy 'n beroep na Postmasburg in Februarie 2007 aanvaar het.
Ds. Holloway het na die vertrek van ds. Keydy alleen in die gemeente gewerk, Die kerkbywoning was goed en die finansies was aan die groei. Ds. Richard was 'n mense-mens wat mense besoek het en wat op 'n stadium gesê het dat hospitaalbesoeke 'n heerlike deel van sy werk is.
In Julie 2009 aanvaar hy die beroep na St. Helenabaai. Ná ‘n vrugbare bediening van 13 jaar, word hy opgevolg deur ds. JS Kloppers, wat op Sondag, 4 Februarie 2010 bevestig is. In sy tyd het die kerkraad gemeentefondse ingesamel, deur o.a. 'n ete en 'n dans aan te bied. Daar is ook besluit om die ligging van die basaar te verander na die oop stuk veld agter Noord-Kaap Mall. Hierdie vernuwende skuif het vele onbekende voete 'n draai by die basaar laat maak wat die inkomste 'n goeie hupstoot gegee het.
Ds. Kloppers se basaarspesialiteit was sy Priesterbier. Tuisgemaakte gemmerbier is darem net so 'n bietjie anders as jou alledaagse kommersiële koeldrank. 'n Mens kan maar sê dit is 'n koeldrank met 'n houding ... hierdie verfrissende Priesterbier was 'n goeie teenvoeter teen Kimberley se hitte. Ses jaar later aanvaar hy 'n beroep na die gemeente Burgersdorp en lewer sy afskeidspreek in Augustus 2016.
Almal van ons, gemeentelede, kerkraad, adminpersoneel en predikante, se dade, groot of klein, is soos klippies wat ons in die poel van die tyd gooi. Self verdwyn hulle, maar die sirkels op die water kring uit tot in ewigheid.