Veertig meter, Here. Dit is hoe ver U veronderstel was om weg te bly van die man met die melaatsheid aan sy lyf.
Veertig meter. Die lewe het gesê dis "okay" as U die man so verlangs, met 'n ompad raaksien. Solank U nie naby gaan nie.
Veertig meter ver ... dít was veilig genoeg.
Hoe alleen moes daardie mens net nie gevoel het nie, Here? Só met die sere op sy stukkende lyf ... en die skaamwees ... en die alleen-wees ... en die verlang in sy hart gebêre.
Hoe desperaat moes hy net nie gewees het nie ...?
Só desperaat dat hy die veertig meter nader gekruip het. Sy uitroep was rou, stukkend ... pleitend: "Here, as U wil, maak my 'seblief net gesond."
U het nie geskrik vir die veertig meter nie, Here. U was nie bang of versigtig of skaam nie. U het nie stil probeer wegkyk, anderpad kyk nie.
Nee! U kon nie wag om deur die veertig meter te breek en U hand sag op sy stukkende lyf te sit nie.
Die melaats-wees en stukkend-wees was nie net in die Bybel nie, Here.
Elkeen van ons loop met 'n stukkie stukkend in ons harte rond.
'n Stukkend wat ons nooit vir die wêreld wys nie, want mense maak seer. Die lewe maak seer ... en dan stap ons elke dag op ons stukkie pad, 'n glimlag wat net op ons lippe sit en nie wil koers kies na ons oë toe nie.
Ons harte hou die veertig meter afstand tussen ons en die mens langs ons. Soms tussen ons en U. Soos 'n "silent secret" wat ons diep in ons hart gaan bêre ... té bang die lewe gaan ons verwyt, óf ons wegstoot, óf moeg raak vir ons as ons te veel van onsself wys.
Dankie dat U nie skrik vir ons veertig meter nie.
Dankie dat U nie moedeloos raak as U die "silent secret" diep in ons harte raak-kyk nie.
Dankie, Here, dat U ons kom soek wanneer ons in ons eie harte probeer wegkruip.
Dankie dat U stil U hand na ons uitsteek, selfs op daardie tye wanneer ons te moeg is om te roep en te bid en te pleit. Selfs op daardie tye wat ons huil net in baklei wil verander.
Dankie dat U versigtig aan ons "Silent secrets" raak, en dit beter maak.
Dankie dat U nie ongeduldig raak met ons nie. Maar ons styf teen U vashou totdat ons weer die moed en die krag het om die veertig meter terug te stap na die lewe toe.
Die lewe wat U so graag wil hê ons voluit moet leef.
"Here, as U wil ..." het hy gepleit.
"Here, as U wil ..." pleit ons stukkend.
Dankie vir die sagte kyk in U oë, die verstaan in U stem wanneer U stil antwoord: "Ek wil."
Dankie dat U die veertig meter terughardloop na ons toe, daar waar die lewe ons harte agtergelaat het.
- Daar waar ons kind doodgegaan het;- ons werkloos op die sypaadjie uitgespoeg is;- ons huwelik misluk het;- ons aangerand word;- ons hart se mens doodgegaan het;- ons sommer net so baie alleen is.
Dankie dat U ons nooit langs die pad vergeet nie. Nooit nie.
Dankie dat U by ons bly totdat ons weer die moed het om ons koppe op te lig en die lewe weer in die oë te kyk.
Dankie dat U wil.
Dít ... is vir ons genoeg!!
Amen
[Geleen - dankie, ds. Ensie, dat jy hierdie boodskap met die lesers deel.]